Van klaslokaal na glans: Amorey (14) dra nou die kroon
Die 14-jarige Amorey van Wyk van Hoërskool Bastion het haar droom verwesenlik toe sy, ná slegs ’n paar maande in die modelbedryf, as Miss Beauty Queen Gauteng Teen 2025 gekroon is.
Hoërskool Bastion se Amorey van Wyk (14) straal op die loopplank nadat sy as Miss Beauty Queen Gauteng Teen 2025 gekroon is.
Amorey het onlangs die tienerafdeling (14 tot 16 jaar) van hierdie gesogte skoonheidskompetisie gewen. Volgens haar ma, Adele van Wyk, is Amorey se modelloopbaan nog in sy kinderskoene.
“Amorey het haar modelloopbaan in Mei vanjaar begin, en sedertdien het sy reeds merkwaardige groei in die skoonheids- en modelwêreld getoon,” vertel Adele.
Haar eerste deelname was aan Miss CANSA in Junie, gevolg deur Miss Usambara en Miss Cowboy Town in Augustus, asook Crowns for Charity in September. In Oktober is sy as Miss Beauty Queen Gauteng Teen 2025 gekroon – haar vyfde kompetisie en, volgens Adele, haar grootste prestasie tot dusver.
“Ek geniet dit omdat elke kompetisie vir my ’n nuwe geleentheid bied om te groei. Dis waar ek leer om selfvertroue te hê,” sê Amorey. Haar gunstelingdeel is wanneer sy nuwe mense ontmoet wat haar inspireer.
“My droom is om te groei. Ek wil ’n gesonde gemeenskap rondom my bou. Ek wil ’n platform hê om jong meisies te wys dat jy enigiets kan bereik as jy jouself bly en hard werk. Ek glo dat skoonheid begin by selfvertroue, selfrespek en karakter.”
Adele noem dat hulle ongelooflik trots is op Amorey en alles wat sy reeds in só ’n kort tyd bereik het.
“Haar groei en selfvertroue is grootliks te danke aan haar modelagentskap en haar afrigter, wat haar met geduld en professionaliteit begelei het. Hy het haar nie net gehelp om as model te ontwikkel nie, maar ook om as jong meisie met waardes, dissipline en selfrespek te groei,” sluit Adele af.
