Local news

Dirker-tweeling vier dubbeltroue: Susters stap saam die paadjie in Randfontein

Hulle was al as babas in Krugersdorp News, en nou keer hulle terug as stralende bruide. Die Dirker-tweeling se dubbeltroue is ’n viering van liefde, familie en ’n onbreekbare band.

Vandat hulle babas was, het Nicayla en Nikita Dirker in Krugersdorp News verskyn, en nou, jare later, is hulle weer in die nuus – maar met verskillende vanne.

Hulle het die eerste keer in die News verskyn as babas in die uitgawe van 21 Desember 2001. Die berig het gelees:

“Nikita en Nicayla Dirker (11 maande) van Oatlands vier vanjaar hul eerste Kersfees en hoewel hulle nog te klein is om die simboliek van die dag te snap, is hul in hul noppies met die hope geskenke. Die verpakking verskaf hulle ook eindelose plesier. Die tweeling vier op 3 Januarie hul eerste verjaardag.”

Die tweeling se eerste verskyning in die Krugersdorp Nuus/ News van 21 Desember 2001.

In die uitgawe van 25 Januarie 2008 was hulle reeds op laerskool, en die berig het gehandel oor die tweelinge se eerste dae by die skool.

“Ek en my tweelingsussie het as kinders baie baklei [soos tweelinge maar doen!] – en almal het ons altyd deurmekaar gekry! Maar namate ons ouer geword het, het ons nader aan mekaar gegroei en mekaar meer begin waardeer. Ons het begin om hope foto’s saam te neem, en soms selfs dieselfde aangetrek net om mense lekker deurmekaar te maak,” het Nicayla vertel.

Die tweeling verskyn weer in die Krugersdorp Nuus/ News as laerskoolkinders (fotoaan die regterkant).

Vandag is hulle Nicayla van Wyk en Nikita du Plessis. Albei het op dieselfde dag, 17 Oktober, getrou – en begin nou saam met hul lewensmaats aan ’n nuwe hoofstuk.

“Ons het selfs besluit om saam te trou – iets besonders wat min susters kan sê. My ouma, Julie, het gesê dis haar laaste wens om ons saam te sien trou, en dit het ook perfek uitgewerk,” sê sy.

Reinhart en Nicayla van Wyk op hul troudag. Foto: VDM Photo & Film

Nicayla het haar man, Reinhart, op skool ontmoet.

“Vir twee jaar lank was ons net goeie vriende – totdat ek een aand besluit het om hom te troos en vir hom ’n soentjie op die wang te gee. En van daardie oomblik af … het die vonke gespat!” het sy vertel.

“My ma, Venessa, en Ouma Julie, het nog altyd van Reinhart gehou – hulle het selfs altyd gesê hulle wens ons wil begin uitgaan. Op 29 September 2018 het ons amptelik begin ‘date’, en die res is geskiedenis,” voeg sy by.

Vier jaar later, op 30 September 2022, het Reinhart op sy knie gegaan en die groot vraag gevra – en natuurlik het Nicayla ja gesê. Daarna het hulle hul droomtroue begin beplan.

Brandon en Nikita du Plessis op hul troudag. Foto: VDM Photo & Film

Haar suster, Nikita, het haar man, Brandon, by ’n kuier ontmoet. Hulle het begin gesels en, tydens ’n besoek, het hy haar gevra om sy meisie te wees; sy het aanvanklik met ’n glimlag nee gesê.

“Maar Brandon het nie moed opgegee nie. Hy het my weer gevra – en op 14 Julie 2018 het ek uiteindelik ja gesê!” het Nikita vertel.

Van daardie dag af het hulle begin uitgaan en baie ervarings saam gedeel. Op 1 Augustus 2021 het Brandon sy knie gebuig en haar gevra om sy vrou te word – en natuurlik het sy ook ja gesê.

Nicayla beskryf die huweliksdag as die mooiste in hul lewens.

“Dit was perfek van begin tot einde. Die weer, die mense, ons familie en vriende, die atmosfeer … alles was net soos ons altyd gedroom het,” het sy vertel.

Brandon en Nikita du Plessis saam Nicayla en Reinhart van Wyk op hul troudag. Foto: VDM Photo & Film

“Toe die groot dag aanbreek, was ek, Reinhart, Nikita en Brandon ongelooflik senuweeagtig! Daar was oomblikke wat ons net wou wegvlug van al die spanning, maar diep binne-in het ons geweet: dis ons dag, ons liefde, ons geluk. En dit wás inderdaad die beste dag ooit – vol lag, trane van blydskap en herinneringe wat ons vir altyd sal koester,” het sy bygevoeg.

Hulle woon almal saam op ’n plot in Randfontein, saam met hul vyf honde wat elke dag vir lewe en liefde in die huis sorg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button