Local news

Gemeenskap kook vir nooddienste

Van beespot tot wildspot – spanne het hul beste resepte ten toon gestel om fondse vir plaaslike nooddienste in te samel.

Die geure van potjiekos en die gees van gemeenskap het Krugersdorp saamgebring toe Friends of Emergency Services (FES) hul heel eerste potjiekoskompetisie by ’n plaaslike sportklub aangebied het.

Een van die direkteure, Angie van den Berg, het bevestig dat sowat 100 mense die dag bygewoon het. FES is ’n nie-winsgewende organisasie wat daarop fokus om plaaslike nooddienste met finansiële ondersteuning, toerusting en bewusmaking by te staan.

Die Fabulous 5-span by die potjiekoskompetisie. Foto: Heinrich Greyling

“Die kompetisie is as ’n fondsinsamelingsprojek ten bate van FES aangebied. Ons doel was om fondse in te samel om alle vorme van nooddienste te ondersteun. Ons wou ook gemeenskapsbetrokkenheid bevorder en ’n aangename dag skep waar mense vir ’n goeie doel saam kon kuier,” het sy verduidelik.

Volgens Angie het die spanne reeds vanaf vroegoggend begin kook, terwyl musiek sorg vir ’n feestelike atmosfeer. Die dag is afgesluit met ’n prysuitdeling waartydens die wenners aangekondig is.

Angie van den Berg, Elsie Wolfaardt en Dale Mac Rae by die potjiekoskompetisie. Foto: Heinrich Greyling

“Die hoogtepunt van die dag was beslis die beoordelings- en wennerseremonie. Die spanning was hoog, maar die gees van samewerking en gemeenskapsbetrokkenheid het die dag besonder spesiaal gemaak,” het sy bygevoeg.

Daar was ’n verskeidenheid potjiekosgeregte, insluitend ’n tradisionele beespot, gevlokte varkpot, hoenderpot en wildspot.

Armon Wolfaardt, Waldo van den Berg en Ruan Muller langs hul potjie. Foto: Heinrich Greyling

Die top drie spanne was:

• eerste plek: HB Drilling
• tweede plek: Jeanie Blignaut
• derde plek: DA Krugersdorp

Die beoordelaars het die wenners gekies op grond van die volgende kriteria:

• smaak en geur
• kreatiwiteit
• tekstuur en gaarheid
• uitleg en aanbieding
• spanaanbieding en gees

“Ons is opreg dankbaar teenoor almal wat betrokke was en ondersteuning verleen het. Sonder jul bydraes sou hierdie fondsinsameling nie moontlik gewees het nie. Ons sien uit daarna om almal weer by ons volgende potjiekoskompetisie te verwelkom,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button