Tehuisdigter inspireer almal
Lisette Winifred Rautenbach, inwoner van Luipaardsvlei Tehuis, het reeds meer as duisend gedigte geskryf en laat woorde lewe deur emosie en geloof.
Van gedigte tot liedere, het die Luipaardsvlei Tehuis vir Bejaardes hul eie meester van woorde in Lisette Winifred Rautenbach (48) gevind.
Lisette is al ses maande inwoner van die tehuis, maar sy beoefen reeds jare lank die kuns van digkuns. Sy vertel dat sy nooit gedink het sy sou skryf nie, maar in 2018 het sy haarself van die teendeel oortuig.
“Ek skryf oor emosies, die natuur en oor hoe groot en heilig die Messias is. Ek het van die begin af onder die skuilnaam ‘Sonskyn’ geskryf. Ek het dié naam gekies omdat dit my aan my oorlede moeder herinner, asook aan die liefde en warmte wat sy aan my gebied het,” verduidelik Lisette.
In die agt jaar wat sy al dig, het sy reeds meer as duisend gedigte geskryf. Dié verse is in 22 digbundels opgeneem, en sy neem ook gereeld deel aan digkompetisies.
“Ek skryf daagliks en spandeer die grootste deel van my tyd daaraan. Dit gee my ’n platform om my emosies uit te druk en die Evangelie te verkondig.” Sy moedig ander aan om te dig, aangesien die daad van skryf kan help om pyn en verdrukking te verwerk.
Een van haar gedigte, Digters Troubadour, is selfs in ’n lied verwerk.
Luister hier:
Lisette sluit af dat één van haar drome is om eendag haar eie digbundel te publiseer.
