‘Surf’s Up’ by Noordskool: Arri se verjaarsdag bring golwe van skooltrots
Die geliefde motiveerder se spesiale dag was gevul met musiek, helder kleure en kreatiewe ontwerpe deur elke graad.
Laerskool Krugersdorp-Noord het die branders behoorlik aangedurf toe hul geliefde arend-motiveerder, Arri, sy 13de verjaardag gevier het.
Dié geleentheid het op 27 Februarie plaasgevind met ‘n ‘Surf’s Up’-tema. Volgens die skool se woordvoerder, Quintin Botha, was die dag gevul met helder kleure, tropiese eilanddekor en oorvloedige energie. Elke leerder het selfs ’n stukkie verjaardagkoek ontvang.


“Die hoogtepunt van die dag was ongetwyfeld die Arri-bril-kompetisie. Leerders van elke graad het hul kreatiwiteit ten toon gestel deur unieke en kleurvolle brille te ontwerp wat uitstekend by die surftema gepas het. Die beoordelaars het dit moeilik gevind om die wenners te kies,” het hy vertel.



Die wenners is in elke graad aangekondig, waarna daar ook ’n algehele junior- en seniorwenner aangewys is. Botha het bygevoeg dat hierdie twee topontwerpe die tema, kreatiwiteit en gees van die dag perfek vasgevang het.
“Arri, ons trotse arend, het – soos altyd – die leerders gemotiveer en aangemoedig om hul beste te lewer, nie net in die kompetisie nie, maar ook in hul skoolwerk en sport. Sy 13de verjaardagviering was meer as net ’n fees; dit was ’n dag wat ons herinner het aan spanwerk, kreatiwiteit en skooltrots. Met gelag, musiek en talle foto’s was ‘Surf’s Up’ beslis ’n verjaarsdag om te onthou,” het hy afgesluit.
Lees hier: Best of the West: Courts come alive with goals and sportsmanship
