Leer meer oor die Spekboom: Gemeenskap uitgenooi na gratis inligtingsessie
Met twee sessies en ’n kundige gasspreker, kry inwoners die geleentheid om meer oor die Spekboom te leer én ’n gratis steggie huis toe te neem.
Die Wieg van die Mensdom-tak van die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika neem ’n nuwe stap om bome en inheemse plantkunde onder die aandag van die publiek te bring, met hul eerste inligtingssessie vir die gemeenskap.
Hierdie geleentheid se doel is om openbare bewustheid en betrokkenheid te bevorder en inwoners die kans te gee om meer te leer oor die Spekboom – een van Suid-Afrika se mees gewaardeerde inheemse plante.
Amanda Morris, die tak se sekretaris, nooi inwoners om hierdie gratis sessie by te woon, waartydens die unieke eienskappe van die Spekboom uiteengesit sal word en belangstellendes die geleentheid kry om by die tak aan te sluit.
Lees ook: Leer hoe om ’n Spekboom maklik te plant en kweek
Die sessie vind op 28 Maart by Viljoenstraat 54 plaas, en die gasspreker, Deon van Rensburg, tree as aanbieder op. Amanda het verder gemeld dat elkeen wat die dag bywoon, ’n gratis steggie sal ontvang om hul eie Spekboom te kweek.
Daar sal twee sessies wees: die eerste van 13:00 tot 14:00, en die tweede van 14:00 tot 15:00. Amanda het afgesluit dat hulle daarna uitsien om die gemeenskap meer te leer oor hierdie besondere plant.
Vir meer inligting kan Amanda by 082 254 8387 gekontak word.
