KYK: Jan Jan Jan se Wes-Rander bring nóg ’n kuiertreffer
Voormalige Krugersdorp-inwoner Dylan Emslie, beter bekend as “Mooi Jan”, is terug op die musiektoneel met Jan Jan Jan se splinternuwe partytjietreffer, Tant Tilla.
Randfontein se eie Dylan Emslie, beter bekend as ‘Mooi Jan’ van die energieke Afrikaanse groep Jan Jan Jan, is terug met nóg ’n lekker kuiertreffer wat beslis sy plek op elke partytjie-speellys gaan verdien.
Die groep se splinternuwe enkelsnit, Tant Tilla, word amptelik op 22 Mei vrygestel en beloof om oral groot kuiergees te bring.
Tant Tilla is geskryf deur Hugo Ludik, Dylan Emslie, Heinrich Rautenbach en Stephan Hugo Botha, en vervaardig deur Muse Studios. Met hul kenmerkende humor, unieke storievertelling en onweerstaanbare kuier-vibe bewys Jan Jan Jan weereens hoekom hulle as een van Suid-Afrika se gewildste partytjiegroepe beskou word.

Die lied stel die karakter Tant Tilla bekend – ’n vrou wat nie bang is vir olie onder die naels, ’n koue bier in die hand of ’n bietjie chaos op die dansvloer nie. Van haar “potblou Raptor met ’n V8 in” tot haar liefde vir “bier en haar wizza”, is Tant Tilla ’n karakter wat onmiddellik by luisteraars aanklank vind.
Met kleurvolle lirieke, humoristiese beelde en ’n refrein wat gemaak is om uit volle bors saamgesing te word, vat die groep die energie nóg hoër. Reëls soos “Sy’s die Racetrack Godzilla” en “Chuck Norris se mo@#” maak die snit perfek vir feeste, braaie en laat aande saam met vriende.
Volgens die groep handel Tant Tilla oor daardie een persoon wat groter leef, harder lag en altyd die middelpunt van die kuier is. Die lied moet nie te ernstig opgeneem word nie, maar eerder hard gespeel en geniet word.
VIDEO LINK: https://youtu.be/L0DxM06laxs
Aanhangers kan ook uitsien na nóg ’n vermaaklike musiekvideo, aangesien Jan Jan Jan reeds bekend is vir hul unieke styl, humor en kreatiewe visuele inhoud.
Met sy aansteeklike energie en kenmerkende Jan Jan Jan-klank het Tant Tilla al die bestanddele van nóg ’n groot partytjietreffer.

Van Wes-Rand na die verhoogligte
Dylan is deel van die gewilde boere-boyband wat aan die begin van 2019 groot roem verwerf het met hul treffer Wys jou vleis. Dylan was destyds die vryskutmusikant wat in die musiekvideo verskyn het.
Die Randfontein Herald het destyds berig dat daar kort daarna, in 2020, ’n plek in die groep beskikbaar geraak het. Die twee lede het Dylan genader om by die groep aan te sluit, waarna hulle hom die bynaam ‘Mooi Jan’ gegee het nadat hy ingestem het om deel van die groep te word.
Dylan het gesê hy is trots daarop om sedertdien deel van die groep te wees, wat boonop by Krone 2023 opgetree het. Sy doelwit vir die groep is om nog vele meer nommer-een-treffers te behaal.
Die Wes-Rander is in 1997 in Krugersdorp gebore en het Laerskool Protearif bygewoon voordat hy sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Monument voltooi het. Ná skool het hy dadelik begin werk en sy gaslisensie vir huishoudelike en kommersiële installasies ontvang. Hy werk tans ook as ’n konstruksiekontrakteur.
