Herdenk die verlede tydens Krugersdorp-konsentrasiekamptoer
Die FAK nooi inwoners om op Jeugdag deel te neem aan 'n betekenisvolle reis deur die verlede.
Inwoners van Krugersdorp en omliggende gebiede word genooi om op Jeugdag, 16 Junie, deel te neem aan die Krugersdorp-konsentrasiekamptoer – ‘n geleentheid wat daarop gemik is om een van die mees aangrypende hoofstukke in Suid-Afrika se geskiedenis te herdenk.
Volgens Freddie Hardman, voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Krugersdorp-kultuurnetwerk en die Paardekraal-feeskommissie, bied die toer ‘n besondere geleentheid om stil te staan by die lyding, geloof en deursettingsvermoë van duisende boervroue en -kinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog.
“Dit is meer as net ‘n geskiedenistoer. Dit is ‘n dag van herinnering, eerbetoon en nuwe waardering vir die prys van vryheid,” het Freddie gesê.
Die program sluit ‘n begeleide toer van die konsentrasiekampterrein op die hoek van Paul Kruger- en Sarel Potgieterstraat in, asook vertellings en historiese insigte oor die kamp en die mense wat daar gewoon het. Kransleggings by die grafte van slagoffers vorm ook deel van die dag se verrigtinge.
Die toer begin om 09:00, met registrasie wat vanaf 08:30 oop is.
Volgens Freddie is dit belangrik dat hierdie deel van die geskiedenis nie vergeet word nie.
“Deur te onthou, bou ons aan ‘n sterker toekoms vir volgende geslagte,” het hy gesê.
Belangstellendes wat meer inligting verlang, kan Freddie by 069 575 1537 kontak.
