Local newsUpdate

Boombewus: Waarom die kiepersol ‘n uitstekende tuinboom is

Van sy kenmerkende sambreelvormige blare tot sy waterwyse eienskappe – leer meer oor die kiepersol en waarom dit 'n gunsteling onder tuinliefhebbers is.

In die 11de aflewering van die Boombewus-reeks val die kollig op die kiepersol.

Ook bekend as die Cabbage Tree, vertel Flip Mans, lid van die Wieg van die Mensdom-tak van die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika, dat die kiepersol ‘n unieke en kenmerkende inheemse boom van Suider-Afrika is wat tot die Cussonia-genus behoort.

“Hierdie immergroen boom is veral bekend vir sy dik, kurkagtige stam en blare wat soos sambrele bo-aan die takke gegroepeer is. Die kiepersol is ‘n uitstekende bate vir enige Suid-Afrikaanse tuin omdat dit estetiese waarde met uiterste gehardheid en ekologiese voordele kombineer,” sê hy.

• Lees ook: Witstinkhout: ’n Boom vir dekades

Volgens Mans is die boom om die volgende redes ‘n uitstekende keuse vir enige tuin:

1. Unieke argitektoniese voorkoms
Die boom het ‘n kenmerkende, skulpturele vorm met ‘n kaal stam en ‘n welige kroon van blare.

2. Kenmerkende grysgroen blare
Die grysgroen blare skep ‘n treffende kontras met ander plante in die tuin.

3. Lok natuurlewe
Die blomme produseer volop nektar, terwyl die vlesige pers-swart vrugte vrugtevretende voëls, soos loeries en tiptolle, lok. Die blomme lok ook bye en skoenlappers, wat ‘n belangrike rol in bestuiwing speel.

4. Min instandhouding en baie gehard
Waterwys: Sodra die boom gevestig is, is dit baie droogtebestand omdat die dik stam en wortels water stoor.
Rypbestand: Spesies soos die hoëveldkiepersol (Cussonia paniculata) is besonder bestand teen koue en strawwe ryp.

Flip sê daar is twee algemene spesies van die kiepersol:

Gewone kiepersol (Cussonia spicata) groei vinnig en word tussen drie en 10m hoog. Dit kom algemeen in die warmer en vogtiger dele van Suid-Afrika voor.

Hoëveldkiepersol (Cussonia paniculata) is ‘n korter, meer geharde en rypbestande spesie wat dikwels op klipperige berghange en in kouer streke floreer. Dit het opvallende grysgroen tot blougroen blare.

In die volgende aflewering van die Boombewus-reeks word daar gekyk na hoe om ‘n kiepersol behoorlik te plant.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button