N’zuri wen goud en mik nou vir George
Verskeie N'zuri-spanlede het podiumplekke verower en gewys hulle is gereed om hul nasionale titel in George te verdedig.
Die N’zuri-brandweerspan het weer sy staal gewys toe vyf spanlede podiumplekke by die Dräger Fire Combat Challenge verower het, met hul oë nou stewig op die Nasionale Sterktebrandweerman-kompetisie in George.
Volgens die span se afrigter, Manie Gouws, het die kompetisie uit twee afdelings bestaan.
Die Toring
Brandbestryders moes in volle beskermende uitrusting, met hul asemhalingstoerusting aangeskakel (‘on air’), vier verdiepings opstap terwyl hulle ‘n 20kg-gewig dra. Bo moes hulle nóg ‘n 20kg-gewig optrek voordat hulle weer die trappe afgestorm het.
Daarna het deelnemers ‘n 75kg Keiser Force-masjien met ‘n hamer oor ‘n afstand van 1.5m geslaan. Vervolgens moes hulle 30m deur kegels hardloop, ‘n brandslang vir 10m sleep en ‘n teiken met water raakspuit. Die laaste uitdaging was om ‘n 80kg-reddingspop oor 30m tot by die eindpunt te sleep.
“Hier word die brandweerman se krag, spoed en doeltreffendheid getoets,” sê Gouws.

CrossFit-afdeling
In die CrossFit-afdeling moes deelnemers, steeds in volle uitrusting, eers 30 kalorieë op ‘n oefenfiets verbrand. Daarna het hulle vir agt minute soveel herhalings as moontlik van ‘n gewigdra-oefening, bokspronge en 20kg-squats gedoen.
Ná die agt minute het hulle nog twee minute gehad om soveel sledge pulls as moontlik met ‘n 100kg-slee te voltooi.
“Die spanlede het uitstekend gevaar in hul onderskeie afdelings, asook in die algehele uitslae,” vertel hy.
Uitslae is as volg:
• Vroue 35–39 jaar
Lesego Molikwe – Eerste plek
• Vroue 40–44 jaar
Maithamako Moswete – Tweede plek
• Mans 35–39 jaar
Vincent Naudé – Eerste plek
• Mans 40–44 jaar
Qhina Finni – Sesde plek
• Mans 45–49 jaar
Manie Gouws – Eerste plek
Gouws sê Maithamako Moswete en Lesego Molikwe het onderskeidelik eerste en tweede geëindig in die algehele vroue-afdeling. In die mansafdeling was Vincent Naudé algeheel vierde en Gouws sesde.
“Vincent het ook vir die Charnaud-span aan die spankompetisie deelgeneem, waar hulle goud in albei afdelings gewen het. Ons het die kompetisie baie geniet. Hoewel die CrossFit-afdeling effens buite ons gemaksone was, was dit uitstekende voorbereiding vir ons volgende groot uitdaging – die Nasionale Sterktebrandweerman-kompetisie in George, waar N’zuri sy titel gaan verdedig,” sluit hy af.