Elivera Dreyer: ’n Vrou wat haar plek in die reg geëis het
Van ’n matrikulant wat nie geweet het wat sy wil doen nie tot ’n senior staatsadvokaat – Elivera Dreyer se reis wys wat harde werk, selfvertroue en vasberadenheid kan bereik.
Noordheuwel-inwoner en senior staatsadvokaat Elivera Dreyer van die Johannesburgse kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging vertel, ter viering van Vrouemaand, hoe haar regsloopbaan haar as ’t ware gekies het.
Elivera het in matriek nog nie geweet watter loopbaan sy wou volg nie en kon ook nie voltyds studeer nie. Op die dag van haar laaste matriekeksamen het sy egter gehoor dat sy ’n beurs van die Departement van Justisie ontvang het om regte te studeer.
Sy het op 2 Januarie 1991 haar loopbaan begin, haar B.Iuris-graad (‘n voormalige voorgraadse regskwalifikasie) verwerf en in 1995 as staatsaanklaer begin werk. Daarna het sy haar LLB deur Unisa voltooi en is in 2004 as advokaat van die hooggeregshof toegelaat.
Volgens Elivera was die regsberoep in die 1990’s steeds ‘n wêreld wat oorwegend deur mans oorheers is, en moes sy haarself herhaaldelik bewys.
“Vrouedag en -maand simboliseer vir my hoe ver vroue in die regsberoep gevorder het. Hoewel daar steeds ruimte vir verbetering bestaan, speel vroue vandag ’n betekenisvolle en invloedryke rol in die regstelsel,” sê sy.
Een van haar grootste loopbaanhoogtepunte was haar toelating as advokaat, wat haar die geleentheid gebied het om in die hoogste howe van die land aan te kla. Sy sê kleiner oorwinnings, soos die suksesvolle afhandeling van moeilike sake en die wete dat sy ’n slagoffer gehelp het, is egter net so betekenisvol.
Haar raad aan jong vroue is om hard te werk, voorbereid te wees, in hulself te glo en nooit hul menslikheid te verloor nie.
“Moenie jou uniekheid as vrou verloor omdat jy jouself met jou manlike kollegas vergelyk nie. Glo in jou vermoëns, omarm jou eie identiteit en moenie toelaat dat iemand jou aan jou waarde of potensiaal laat twyfel nie.”
