Piet se missie: Niemand moet honger gaan slaap nie
Elke Saterdag word die potte by Piet Becker se huis in Burgershoop vol kos gemaak vir sowat 700 mense wat op ’n warm maaltyd staatmaak.
Wat tydens die Covid-19-pandemie met een pot bredie en rys begin het, het intussen gegroei tot ’n voedingskema wat elke week sowat 700 mense van ’n warm maaltyd voorsien.
Piet Becker, hoof van ’n voedingskema in Appelpark wat hy van sy huis af bestuur, voorsien elke Saterdag maaltye aan minderbevoorregte gemeenskapslede, veral bejaardes en kinders, by Alidalaan 35. Inwoners ontvang onder meer bredie en stysel, afhangend van die skenkings wat beskikbaar is.
Hy sê twee kerke, die NG Paardekraal en NG Quellerina help waar hulle kan, terwyl hy self die koste dra indien daar nie genoeg skenkings is nie.
Becker hoop om die voedingskema in die toekoms uit te brei sodat hy meer mense meer gereeld van kos kan voorsien. Hy verskaf ook, waar moontlik, sop, brood en koffie aan mense wat op straat woon.
Becker sê hy is dankbaar teenoor almal wat die projek ondersteun en hom help om die voedingskema voort te sit.