Modderige dag in Hekpoort tydens 4×4-geleentheid
Van modder en mededinging tot musiek en kuier om die vuur – Hekpoort se geliefde 4x4-byeenkoms het ’n kwarteeu se mylpale gevier.
Laerskool Hekpoort se jaarlikse Hekpoort 4×4-byeenkoms het op 3 Oktober sy 25ste bestaansjaar gevier, met sowat 140 inskrywings en byna 3 000 toeskouers.
Die geleentheid het ’n 4×4-kompetisie, verskeie uitstallers, kos en drinkgoed en ’n optrede deur gaskunstenaar Chris Steyn ingesluit.

Skoolhoof Tania Rademan het die dag as suksesvol beskryf en die hoogtepunte uitgesonder as die moddergat, waar twee voertuie teen mekaar meegeding het, en die aand se kuier om die reusevuur.

Die wenners in die ses klasse was:
• Tweewielaangedrewe karretjie (buggy): Charles Rossouw
• Standaard: Anton Pretorius
• Locker: Fred Lipke
• Pro-locker: Johan van Wyk
• Modified: Jaco Groenveld
• Super Trucks: Yssel Mulder

Tania het die sukses van die byeenkoms oor die afgelope 25 jaar toegeskryf aan die toegewyde personeel en vrywilligers van die Hekpoort 4×4-klub, wat hul tyd en energie gee om die geleentheid moontlik te maak.
