Uitreikingsdag bring hoop en hulp aan sowat 350 inwoners
Kinders en volwassenes het kos, klere en ander noodsaaklikhede ontvang tydens Unity in Christ Missions se uitreikingsdag in Krugersdorp-Wes.
Sowat 350 inwoners, insluitend kinders, het op 14 November kos, klere en ander noodsaaklikhede ontvang tydens Unity in Christ Missions se Krugersdorp Prayer Walk and Outreach Day in Krugersdorp-Wes.
Die uitreikingsdag is by die Paul Kruger Saal aangebied deur Franco Labuschagne, een van die nie-winsgewende organisasie se direkteure. Die doel was om inwoners sowel geestelik as fisies by te staan.

Volgens Labuschagne het die kinders die dag geniet met sang, dans, gesigverf, speelgoed, lekkers, roomys en ‘n springkasteel. Kos en verversings is ook voorsien, terwyl inwoners toegang tot ‘n haarsny-stasie en klere gehad het.
Een van die hoogtepunte was ‘n gebedstap waartydens Christene van verskillende denominasies en inwoners saam deur die buurt gestap en vir die gemeenskap gebid het.

“Ons weet daar is baie mense in nood in Krugersdorp en dat hulle hoop nodig het. Ons glo daardie hoop is alleenlik te vinde in Jesus Christus,” het Labuschagne gesê.
Hy het bygevoeg dat talle inwoners gebed ontvang het, Bybels uitgedeel is en mense ook gedoop is.
Labuschagne het die dag beskryf as ‘n geleentheid om hoop aan mense in nood te bring. Hy het gesê die betrokke bedieninge het ook ‘n beter begrip van die gemeenskap se behoeftes gekry en kan voortgaan om ondersteuning te bied.
