‘Vandag se kinders is more se leiers’, – Mullies-skoolhoof
'Ons land se jongmense staar uitdagende tye in die gesig' – AfriForum tydens hul leiereienskapsontwikkeling-besoek aan Laerskool Muldersdrif.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 26 Julie in samewerking met Manie Botha van BrainTribe vir Laerskool Muldersdrif besoek om leiereienskapsontwikkeling aan te bied.
“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en hoop te skep in skole. Elke kind in ons land verdien dit om die nodige leiding te kry om hul leiereienskappe te ontwikkel, want ons kinders is immers die leiers van môre,” het Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap gesê.
“Ons land se jongmense staar uitdagende tye in die gesig. Om die regte leierskapsgereedskap in ’n kind se leierskapsmondering in te bou is nie net ’n noodsaaklikheid nie, maar ook ’n diepe verantwoordelikheid van elke instansie en organisasie wat met kinders werk. Iemand wat in die jeug belê, glo in die toekoms.
Die leierskapsontwikkelingwerkswinkel is deel van die slypproses om ons land se kosbare diamantkinders se potensiaal te ontgin. Van passie ontdek tot kommunikasie is elke oomblik vol genot en leer. Dankie aan Laerskool Muldersdrif en AfriForum wat toegewyd is om in ons jeug te belê en hulle op te bou,” het Manie Botha, spreker en lewensafrigter van BrainTribe gesê.
“Vandag se kinders is môre se leiers. Leierskap is nie net ’n verkose taak met ’n wapen as aanduiding van die verantwoordelikhede nie. Vir baie kinders is leierskap ’n natuurlike eienskap, terwyl ander baie onseker is daaroor. Dit is vir ons as Laerskool Muldersdrif uiters belangrik om al ons leerders, veral die graad 6- en 7-leerders, bloot te stel aan leiersontwikkelingsgeleenthede. Met AfriForum en BrainTribe se besoek word die leerders bewus gemaak en aan toepaslike kennis en vaardighede blootgestel.
“Ook sien hulle dat verkillende situasies verskillende optredes vereis. Almal is een of ander tyd ’n leier, al is hulle nie noodwendig verkies of aangestel nie. Dit is eintlik ’n lewenslange proses. Baie dankie AfriForum en BrainTribe vir die ondersteuning. Ons is dankbaar vir die belegging in die land se toekoms,” het Herman Byleveld, hoof van die Laerskool Muldersdrif gesê.
