Sweef soos ‘n Arend: Noordskool onthul pragbeeld
'Bedags kan elke Norie en ouer die pragbeeld geniet, en saans skyn die liggies op hom en dan kan hy van die pad af gesien word. Daar is ook ‘n waterfokuspunt waaroor die arend sweef.'
Laerskool Krugersdorp-Noord het op Donderdagaand, 15 September een van hul trotsste oomblike in hul geskiedenis beleef toe ‘n groot beeld van ‘n arend onthul is.
Die Arend, soos hy genoem word, is 2.2 meter hoog met ‘n vlerkspan van 1.8 meter wat trots voor die ontvangsarea van die skool pryk.
Ons droom al sedert 2013 oor Die Arend om die Noordskool-ontvangsarea op te knap,” het Quintin Botha, skoolwoordvoerder en departementshoof gesê.


“Ons is baie trots. Bedags kan elke Norie en ouer die pragbeeld geniet, en saans skyn die liggies op hom en dan kan hy van die pad af gesien word. Daar is ook ‘n waterfokuspunt waaroor die arend sweef. Hy gaan nog baie jare nuwe Nories se harte bly maak met hulle aankoms by Noordskool. Ons huidige ouers kan dit ook geniet. Dit beklemtoon Noordskool se beeld in Krugersdorp.”
Volgens Botha is die arend ‘n staalstruktuur wat met veselglas bedek is.

“Hy is in 2004 by Featherbrooke Square opgerig maar is verwyder toe die winkelsentrum opgeknap is. Die Arend is toe aan Noordskool geskenk, maar die beeld was in ‘n swak toestand omdat dit in die veld gelê het. Mark Howse, wat ook sweeftuie bou, het die beeld gerestoureer en tot sy oorspronklike glorie herstel.”
Botha het vertel dat die planne en uitleg deur hul beheerliggaamvoorsitter Gideon Swart behartig is.

Die onthulling het tydens die skool se Kultuuraand plaasgevind waartydens eregaste van hul talentvolle kinders in die senior- en juniorkore asook dansgroepe kon sien optree.
“Ons het ook ons gedenkplaatjies onthul van oud-Nories wat die afgelope twee jaar presteer het. Onder die eregaste was Brandon Eloff, musiekkunstenaar en akteur wat self diep spore by Noordskool getrap het.”





