Schools

Mullies is besige bytjies

AfriForum se Besigheidsbytjiespan en Raising Brightness besoek Laerskool Muldersdrif-entrepreneursdag.

AfriForum se Besigheidsbytjiespan het op 23 September besoek afgelê by Laerskool Muldersdrif tydens hul entrepreneursdag as deel van hierdie aanlynentrepreneurskompetisie se bemarkingstoer.

Raising Brightness, ook ’n borg van die kompetisie, het ’n spesiale prys vir die beste Laerskool Muldersdrif-entrepreneurs gegee nadat leerders hul sakeplan uit Raising Brightness se boek, Bou ’n besigheid! Vir jong entrepreneurs voltooi het.

Lees ook: ‘Vandag se kinders is more se leiers’, – Mullies-skoolhoof

Die twee beste vriendinne, Natalee Beuthe en Illisa Labuschagne (albei graad 7), se stalletjie, Foto in ’n happie, het gewen. Hulle het lekkernye verkoop en saam met die lekkernye het elke klant ’n gratis foto ontvang wat deur ’n Instax-kamera geneem is. Natalee en Illisa het ’n R1 000-geskenkbewys van Raising Brightness gewen.

Volgens AfriForum se Bestuurder: Jeugleierskap Leandie Bräsler, het die burgerregteorganisasie reeds in 2019 die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie met groot sukses van stapel gestuur.

Die kompetisie is intussen uitgebrei deur voorsiening te maak vir hoërskoolleerders wat ’n passie en kop het vir besigheid. Hierdie jaar spog dié kompetisie met twee splinternuwe kategorieë, naamlik die AfriForum Wêreldwyd-kategorie (vir Suid-Afrikaners in die buiteland) en die Saai-kategorie (entrepreneurs wat ’n liefde het vir landbou).

“AfriForum glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak.

Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou,” het Bräsler gesê.

“Nadat AfriForum Sakenetwerk in 2017 met die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie begin het, het ons gesien dat daar ook kinders is wat graag wil deelneem en hulle entrepreneursvaardighede ten toon wil stel. Dit is nou die vierde jaar dat ons die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie aanbied en dit is verblydend om te sien hoe die belangstelling jaarliks vermeerder en dat kinders ook raaksien hoe belangrik hulle ondernemings vir die ekonomie van Suid-Afrika is,” het Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk gesê.

“Raising Brightness se Bou ’n Besigheid! Vir jong entrepreneurs is ’n kursus vir kinders oor hoe om ’n besigheid op ’n jong ouderdom van stapel te stuur. Dit fokus op hoe geld gemaak kan word om probleme op te los. Die kursus dek onderwerpe soos idee-generering vir ’n onderneming, hoe om ’n naam en logo te kry, kosteberekening, bemarkingstrategieë, asook lekker praktiese elemente soos hoe om ’n webblad en pamflette te ontwerp. Jy kan individueel deur die boek werk of aanlynklasse bywoon,” het Raising Brightness-stigter Yolanda Grobler verduidelik.

“Entrepreneurskap is broodnodig in die Suid-Afrikaanse, maar ook wêreldekonomie. Met die huidige omstandighede skep blootstelling aan entrepreneurskap die ideale platform vir kreatiewe maats om met hulle selfkennis en vermoëns geleenthede in hulle omgewing raak te sien. Entrepreneurskap is ’n uitdaging aan elke Mullie-leerder om met probleemoplossings vorendag te kom en te dink en te leef volgens sakeplankenmerke.

Dis heerlik om ons leerders te sien moeite doen, saam- en hard te werk , kreatief te dink, te beplan en ook om só ouers betrokke kry vir die spesiale dag,” sê Herman Byleveld, hoof van Laerskool Muldersdrif.

Leerders, ouers en onderwysers kan www.besigheidsbytjies.co.za besoek vir meer inligting of om in te skryf vir dié kompetisie. Aanlyn-inskrywings sluit 11 Oktober 2022 en daar is ook ’n kontantprys vir die skool met die meeste inskrywings. Stuur gerus ’n e-pos na besigheidsbytjies@afriforum.co.za vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button