Primary SchoolSchools

‘Ons wens almal ‘n geseënde feestyd toe’ – Proties-hoof

Laerskool Protearif se skoolhoof Donna Lourens bedank elkeen wat die jaar uitgestyg het.

Die News het by die hoof van Laerskool Protearif, Donna Lourens gaan uitvind wat sy seënwense aan Krugersdorp se gemeenskap is.

“As jy agter raak, hardloop vinniger. Moenie opgee nie, moenie oorgee nie. Styg uit bo alle verwagtinge” – Jesse Jackson.

Binnekort vier ons Kersfees, maar hiérdie tyd van elke skooljaar, is daar erkenningsgeleentheid, óp erkenningsgeleentheid, waar topprestasies wat al die skole se leerders behaal het deur die loop van die afgelope jaar, gevier word.

Dis dié tyd van die jaar, wanneer ouers breë bors en met trots, spog op sosiale media oor die prestasies wat hul kinders behaal het. En dis ook rég so, dié leerders en hul ouers, mag so voel en dit doen, want hulle is geseën met talente, waarmee hul gaan woeker het en verdien die erkenning wat hulle daarvoor kry!

Laerskool Protearif se 2022-tema was ‘Styg …’ en die woord styg, beteken mos om in waarde, in volume of in hoogte, toe te neem.

Ja, rentekoerse het gestyg, genadiglik het ons damme se vlakke gestyg, die liewe beurtkrag fases het gestyg, petrol en diesel se prys het gestyg, ouers en leerkragte, se humeure het gestyg, die druk van die eksamen het leerders se stresvlakke laat styg.

Protearif bring graag aan die einde van ‘n jaar propvol seën en oorvloed genade, hulde aan elke doodgewone, gelukkige Protie-leerder, wat hierdie jaar, uitgestyg het (bo alle verwagting), na die beste van hul vermoëns presteer het, uitgestyg het, uit dalk nié-sulke-maklike-omstandighede nie, gestyg het met die ondersteuning wat daar was, al was dit moeilik om by uit te kom.

Dit was opreg, dit was daar en vir seker gewaardeer.

Ons skool, Laerskool Protearif, het elkeen van julle nodig gehad om van 2022, nog ’n jaar, propvol hoogtepunte te kon maak!

Jy het dalk nie tydens prysuitdelings of erkenningsfunksies op die verhoog geboer nie, maar jy’t jou plek in ons skool volgestaan, jy’t jou deel met trots gebring, jy’t jou kindwees geniet, jy’t respek en waardering getoon vir wat ons skool jou kon bied en dít, is mos iets om te vier!

Ons sê baie dankie aan ál die Proties, aan al die ouers, personeelspan én ons gemeenskap, dat julle saam met ons gestyg en gesweef het in die wolkebaan van 2022!

Ons wens almal ‘n geseënde feestyd toe. Mag goedheid en guns die wind in julle seile wees om in 2023, verder voorspoedig te reis, nóg hoër te styg en hoër hoogtes te bereik!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button