Norie haal ATKV-DigiToneel se Top-8
Corrine-Marie van Hoogdalem van Hoërskool Noordheuwel deel van ATKV-DigiToneel se Top-8.
Die ATKV se eie TV-realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig, is in 2023 weer op pad na jou skerm, en hierdie keer met ’n nuwe temawolk én ‘n nuwe kinkel.
• Lees ook: Drie Nories gekies vir ATKV-DigiToneel se top 16
Vanjaar sê die vier mentors mekaar ook die stryd aan: Elke mentor neem twee van die agt finaliste op die stel van Gekies vir die Kollig onder hul vlerk en gee advies en raad oor die top-8 se opnames, voordat ’n splinternuwe paneel, wat die finaliste se werk nog glad nie gesien het nie, die finale opnames beoordeel om vanjaar se wenner van ATKV-DigiToneel te bepaal.
Projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel JJ van Niekerk sê hy is opgewonde om te sien wat hierdie nuwe dinamika na die kompetisie en na die program gaan bring.
Die talent is uitsonderlik en ek is daarvan oortuig dat die mentors wat nou saam in die bokskryt klim die heel beste in die top-8 gaan uitbring.”
Die vier mentors tydens vanjaar se kompetisie is Jacques Bessenger, Solomon Cupido, Wilhelm van der Walt en Mari Molefe van Heerden.
Die top-16 het geskaaf aan hul inskrywings na gelang van die terugvoer wat hulle ontvang het tydens die eerste rondte en die mentors moes kopkrap om die top-8 aan te wys. Corrine-Marie van Hoogdalem van Hoërskool Noordheuwel is onder die finaliste en word sy asook sewe ander nou genooi na die stel van Gekies vir die Kollig, waar hulle nog meer ondervinding gaan opdoen deur met ’n kameraspan en hul mentors te werk voor hul finale opnames deur ‘n nuwe paneel beoordeel word.
Maak gereed vir gróót drama en ’n sensoriese ontploffing van talent wanneer seisoen 3 van Gekies vir die Kollig van 3 Oktober af op VIA (DStv-kanaal 147) in jou sitkamer kom kuier.
