By Mullies is tegnologie tops in die klaskamer
Laerskool Muldersdrif het die toekennings ingeryg tydens die jaarlikse hoofde-ontbyt van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum.
Gewoonlik spog Laerskool Muldersdrif met hul kinders, maar die keer is dit die onderwysers wat die skool se naam hoog hou toe die skool as Topskool van die Jaar aangewys is.
Die aankondiging is op 17 November tydens ‘n jaarlikse hoofde-ontbyt van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) by die Afriforum-teater gemaak. Tweede plek het aan Hoërskool Stellenbosch gegaan en derde plek aan Laerskool Noord-Eind van die Paarl.
“Ons is baie trots om te kan sê dat Mullies raakgesien word in terme van die gebruik van tegnologie om ’n groter impak op die onderrig van leerders te maak,” het Janneke van Biljon van die skool gesê.
“Dit is soms ‘n uitdaging om al die personeel van ‘n skool op dieselfde bladsy te kry – daarom is ek so trots op en dankbaar vir my personeel se inkoop. Ons kry ook baie goeie ondersteuning deur die talle opleidingsgeleenthede wat die SOS aanbied. Dit is ‘n voorreg om deurentyd in ons beroep te bly groei,” het Herman Byleveld, hoof van die skool gesê.
By die geleentheid is daar ook ‘onnieveerders’ aangewys. ‘n Onnieveerder is ‘n onderwyser wat tegnologie as grondslag gebruik om onderwys te verbeter. Daar moet aan verkeie kriteria voldoen word en een van dié is die gebruik van Wolkskool as ‘n onderrig hulpmiddel.
Niël Steyn van Laerskool Noord-Eind het eerste plek as onnieveerder gekry, hy is gevolg deur Drico Snyman van Hoërskool Oos-Moot, Pretoria en in die derde plek is dit Mullies se eie Elsabé Joubert. Die sesde plek het aan Mullies-hoof, Herman, gegaan terwyl René Schutte, ook van Mullies, die sewende plek ingeneem het.
“Baie geluk en opregte dank aan elke onderwyser van Mullies wat ’n bydrae lewer om Mullies ’n topklas-skool te maak,” het Janneke bygevoeg.
