Dit was 99% sweet en 1% weet – Nories-matrieks van 2023
Nories se akademiese motto van 'boud-op-die-stoel-sonder-selfoon' het beslis vrugte afgewerp vir die matriekklas van 2023.
Vir die matriekklas van 2023 by Hoërskool Noordheuwel het dit goed gegaan en kan verskeie universiteite van regoor Suid-Afrika, veral Potchefstroom, hul gereed maak vir ‘n groot aantal Nories wat soontoe gaan stroom.
Tydens die Krugersdorp News se besoek aan die skool vroeg Vrydagoggend (19 Januarie), was elke Norie se toekomsplan om hom of haarself by ‘n tersiêre instelling aan te sluit, of om die bul dadelik by die horings te pak en te gaan werk, hetsy te boer of ‘n loopbaan in sport voort te sit.

Kieren Rautenbach, wat met vier onderskeidings spog, gaan Meganiese Ingenieurswese by Potch studeer. Ander leerders wat ook by die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan tent opslaan is sy vriendin Chanél Genis wat onderwys met sportsielkunde wil studeer. Verder wil Caden McLaren op aptekerswese fokus terwyl Chante Prinsloo sportwetenskap, Izaan Venter dierkunde (spesifiek fisiologie) en Kyla Lottering verbruikerswetenskappe gaan swot. Cozette Els wil ‘n biokinetikus word, Megan Armstrong, wat sewe onderskeidings behaal het, ‘n forensiese rekenmeester, Katje Herselman (vyf onderskeidings) ‘n geoktrooieerde rekenmeester en Anzel Marais ‘n verpleegster.

Megan Fourie wil by Stellenbosch studeer om ‘n geoktrooieerde rekenmeester te word en Kylie Barker wil die skoonheidsbedryf aanpak. Brendon Porter gaan boer in Magalies en iemand wat ook in dieselfde tipe bedryf vaar is Brendon Brits.

Eduan Liebenberg, nog ‘n uitblinker met ses onderskeidings, gaan bio-ingenieurswese (spesifiek in ‘n mediese rigting) swot.

Baie trots op die groep van 2023 is adjunkhoof van akademie by Nories, Annemarie de Jager. Volgens haar is hierdie groep spesiaal aangesien hulle baie uitdagings in die gesig moes staar as juniors.

“Hulle was in graad 9 gedurende die Covid-19 tydperk en dit is ‘n jaar waar hulle in moeilike omstandighede vakke moes kies vir die volgende drie jaar. Met deursettingsvermoë het hulle kop gehou en deurgetrek. As jy kyk waardeer hulle gegaan het, en hoe hulle bo uitgekom het, sal ek sê hulle is goed voorberei om die grootmenswêreld in te gaan.”

Annemarie se boodskap aan elke Norie is dat hulle die akademiese motto sal onthou wat lees ‘bosss’.
“Dit staan vir … boud-op-die-stoel-sonder-selfoon,” het sy laggend vertel.

“Bou voort op die basis wat vir jou gelê is en gaan maak almal naby jou trots. Onthou dit is 99% sweet en 1% weet,” het sy afgesluit.


