Schools

Kennies se 50e bestaansjaarvieringe skop af

Kennies se 50e bestaansjaarvieringe het onlangs afgeskop en die News het bietjie dieper gaan kyk na die skool se geskiedenis en meer.

Die aalwyn van Laerskool Kenmare blom nogsteeds.

Vanjaar vier Laerskool Kenmare hul 50e bestaansjaar en op 19 Januarie was dit die eerste amptelike dag van vieringe met leerders sowel as personeel en huidige lede van die beheerliggaam betrokke. Daar was verjaarsdagkoeke, kolwyntjies, ‘n gedans, ‘n gespring en ‘n gejuig danksy die revue-kinders wat opgetree het.

Soos verduidelik deur Kennies se 50e herdenkingskoördineerder Marinus Swanepoel, is die algemene prentjie een van positiewe viering, samehorigheid en die erkenning van die prestasies binne die skoolgemeenskap.

Beheerliggaamvoorsitter Wim Krynauw, skoolhoof Wouter Immelman en adjunkhoof Maryna Kriel sny die verjaarsdagkoek.

“Die viering op 19 Januarie is nie ‘n enkele gebeurtenis nie; daar gaan deur die loop van die jaar verskeie aktiwiteite en geleenthede wees. Hierdie geleenthede is gemik op leerders, ouers, personeel en alumni om saam te kom en die suksesse en prestasies van die skool te vier. Die skool beoog om ‘n gesellige atmosfeer te skep gedurende ons feesjaar, wat die gemeenskap nader aanmekaar bring. Dit is duidelik dat die skool die verjaardag as ‘n geleentheid sien om nie net op ‘n spesifieke dag nie, maar deur die hele jaar, die gemeenskap te betrek.”

Juffrou Cecile Fourie (links) lei die skoollied met die nuwe gelukbringer, Super Kennie, langs haar.

Laerskool Kenmare was in die 70’s deel van Monument Primary, wat ‘n dubbelmedium skool was. Daar was ‘n groot behoefte aan ‘n Afrikaanse laerskool en Laerskool Kenmare is gebou. Die skool is gebou op ‘n kleinhoewe met die naam Grace Dieu (Genade van God), wat eens behoort het aan Pieter Kleinloog, ‘n suksesvolle hoenderboer. Sy grond is in 1964 onteien en 10 jaar later het die skool sy deure geopen met 400 leerders en 17 onderwysers. Dit was die begin van ‘n wegholsuksesverhaal en vandag is Laerskool Kenmare ‘n toonaangewende laerskool aan die Wes-Rand.

Skoolhoof Wouter Immelman aan die woord.

“By Kenmare is ons ‘n familie. Ons is trots op ons pragtige skoolterrein, ons fasiliteite wat voortdurend verbeter word, ons lojale en ondersteunende ouers, en natuurlik is ons baie trots op elke Kennie-kampioen, wat met Durf en Daad [Kennies se leuse], alles in hulle lewe aanpak en die heel beste daarvan maak.”

Om ‘n Kennie te wees volgens Marinus beteken dit om deel te wees van ‘n unieke gemeenskap van leerders wat trots is op hul skool en betrokke is by die strewe na uitnemendheid.

“Ons gee om vir mekaar, dra mekaar se laste en deel ook in mekaar se suksesse. Ons pak alles met oorgawe aan en erken ons ewigdurende afhanklikheid van God-Drie-Enig. Ons het respek vir ons vir mede-Kennies en en ook vir almal wat ons pad mag kruis. In Kenmare glo ons dat geen probleem te groot is om saam te hanteer nie.”

Vieringe op die dag het ook optredes deur die revue-kinders ingesluit wat ‘n vermaaklike bydra gelewer het.

Natuurlik is daar talle oomblikke wat uitstaan van Kennies die afgelope 50 jaar, maar ‘n paar hoogtepunte sluit in akademiese uitnemendheid, ‘n ryk kultuurgeskiedenis, sportprestasies, gemeenskapsbetrokkenheid en departementele erkennings.

“Ons leerders het voortdurend skitterprestasies gelewer met ‘n erkenning vir ons strewe na kennis en ons toewyding tot onderwys. Ons is jaarliks baie trots op die ‘produk’ wat ons aan die onderskeie hoërskole lewer waarnatoe ons Kennie Kampioene gaan. Jaarlikse akademiese prestasies aan hierdie hoërskole, deur oud-Kennies, is ‘n duidelike bewys dat Kenmare ‘n puik akademiese basis lewer aan elkeen van ons leerders. Wat kulturele hoogtepunte aanbetref het die skool deur die jare heen, ‘n erfenis van kulturele uitvoerings, kunswedstryde en ander kultuuraktiwiteite geskep wat ons trots verteenwoordig. Ons jaarlikse deelname aan die AfriForum Super 12 Laerskole Sport en Kultuurreeks word gekenmerk deur puik prestasies en taai volharding teen ons opponente.

Vieringe op die dag het ook optredes deur die revue-kinders ingesluit wat ‘n vermaaklike bydra gelewer het.

“Ons sportspanne maak jaarliks hul merk in die onderskeie ligas waaraan ons deelneem word ons skool se sport gekenmerk deur verskeie ligawenners asook provinsiale wenners. Ons leerders ontwikkkel nie alleenlik hul fisiese vaardighede nie, maar karakterbou en spangees is deel van die totale ontwikkeling van elke Kennie Kampioen. Gedurende die afgelope 50 jaar het ons aktief deelgeneem aan verskeie projekte en inisiatiewe in ons gemeenskap wat ‘n positiewe impak gehad het tot almal se voordeel. Ons het vanjaar ook ‘n groot aksie geloods ten opsigte van welwillendheid teenoor ons medemens. So het ons alreeds ‘n seun wie ‘n kwadrupleeg is in Bloemfontein gehelp met toerusting vir sy akademiese studies, en is ons tans volstoom aan die werk om ‘n dogter in Upington by te staan om uiteindelik ‘n kogleêre inplanting te kan ontvang.

Revue-kinders dans op die rugbyveld.

“Ons skool het onlangs by ‘n departement erkenningsseremonie ‘n reeks toekennings ontvang wat getuig van ons toewyding aan verskeie aspekte van onderwys en ontwikkeling.”

Vieringe op die dag het ook optredes deur die revue-kinders ingesluit wat ‘n vermaaklike bydra gelewer het.

Hier is ‘n greep uit die toekennings:

• Afrigter van die Jaar: Peter du Toit
• Tegniese beampte van die Jaar: DJ Cope
• Administrateur van die Jaar: Peter du Toit

Atlete van die Jaar:
• 2de plek: Seunsatleet: Jayden Fairlie
• 3de plek: Seunsatleet: Hendre de Bruin
• 2de plek: Dogtersatleet: Liana Bezuidenhout

Kultuur-pryse:
• 2de plek: Kultuur Seun van die Jaar: Johandre Viljoen
• 2de plek: Kultuur Skool van die Jaar: Laerskool Kenmare
• Wenner: Kulturele Genre van die Jaar: Laerskool Kenmare Revue

Oor die aalwyn:

• In 1974 was daar ‘n kompetisie gehou, en ‘n ouer het uiteindelik die kompetisie gewen met die voorstel van ‘n aalwyn

• Die aalwyn, wat as ‘n simbool van veerkragtigheid en deursettingsvermoë beskou word, verteenwoordig die skool se leuse Durf en Daad. Hierdie leuse reflekteer die kernwaardes van die skoolgemeenskap en moedig leerders aan om in die aangesig van uitdagings moedig op te tree en hul doelwitte na te streef

• ‘n Aalwyn staan bekend daarvoor dat dit deur moeilike omstandighede kan gaan. Die keuse van die aalwyn simboliseer die vermoë van skool om deur harde tye en uitdagings te navigeer

• Die drie stamme van die aalwyn – geloof, sterkte, en kennis – dien as diep simbole van waardes wat die skoolgemeenskap omarm. Geloof in hulself en mekaar, sterkte om uitdagings te oorkom en die strewe na kennis en uitnemendheid

• Die aalwyn as wapen van Laerskool Kenmare dra ‘n ryk erfenis van veerkragtigheid, geloof, en die wil om te presteer te midde van enige uitdagings wat mag voorkom. Dit verteenwoordig die skool se trots en vasberadenheid om positiewe omgewing vir leerders te skep

 
Back to top button