Proties spog met hul 10 tweelinge, een drieling
Proties het 10 tweelinge en een drieling verwelkom vir die 2024 akademiese jaar.
Laerskool Protearif sien vanjaar omtrent dubbel weens die 10 stelle tweelinge wat vanjaar by die skool aangesluit het.
Volgens skoolhoof Donna Lourens spog die skool selfs met ‘n drieling.
Die 2024-groep graad eentjies is voorwaar ‘n groep om op trots te wees! Wat dit ekstra spesiaal maak, is dat ons ‘n drieling het.”


Verlede week het daar groot opgewondenheid geheers by Proties. Ja daar was skoenlappers-in-die-maag en vreugde met klein bietjie trane toe die leiers en personeel elke liewe nuweling verwelkom het vir die 2024 akademiese jaar.
“Dit was ‘n reuse sukses om die graad 1’s te verwelkom. Soveel moeite, met groot beplanning vooraf, is gedoen met ons jaartema, ‘Onder Konstruksie – #onsbou’. Elke nuwe Protie kon sommer dadelik tuis voel met ‘n konstruksiehoed, kolwyntjie en ‘gereedskap’ om die jaar aan te pak. Die konstruksie fotohoekie het ook gesorg vir groot glimlaggies,” het Donna gesê.


Volgens Donna is die motivering agter hul 2024 tema, ‘Onder Konstruksie – #onsbou’, oor die ruimte wat daar is vir verandering, restourasie of herstelwerk, instandhou en vernuwing.
“Die grootste geskenk wat ons ooit vir ons leerders kan gee, is om hulle te laat voel hulle is goed genoeg. Ons plaas onsself in die groot argitek se hande om elke leerder, onderwyser, administratiewe personeellid en terreinwerker te lei. Proties is meesterstukke onder konstruksie, want hulle gedagtes word woorde, woorde wek dade en dis presies hoe ons gaan bou.”


Hy het afgesluit deur te sê, “Ons sien uit om die totale groep maksimaal te ontwikkel soos Jeremia 29:11, ‘Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here: Voorspoed en nie teëspoed nie, Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.’ Laerskool Protearif koester ‘n God-gegewe verwagting vir elke leerder. Daar is verseker leiers vir die toekoms.”














