Op 9 Mei het Laerskool Krugersdorp-Noord vir die eerste keer sedert 2019 na die NG Krugersdorp-Noord Gemeente gestap om Hemelvaartdag te vier.
Die dag het begin met ‘n saalopening, gepaard met ‘n optrede deur Nories se Christelike groep waar hulle gedans en gesing het vir die skool. Toe die leerders die saal verlaat het, het hulle ‘n kaartjie ontvang wat sê dat jy vir God ‘n kosbare pêrl is.
Die 975 leerders het toe vanaf die skool, kerk toe gestap.
“Dit is ‘n reuse voorreg dat Nories na ons toe kon kom, veral omdat ons dit in 2019 laas gedoen het,” het ds Jorina Redelinghuys, leraar by die kerk, gesê.
Die boodskap wat ds Jorina aan die leerders oorgedra het was ‘n vergelyking van spookasem in water. Sy het gesê dat wanneer spookasem in water verdwyn, is dit soos die Here wat in ons leef. Die spookasem was ook simbolies van die wolke waarop die Here hemel toe opgevaar het.
“Ons is bly die skool was oop op Hemelvaart en dat ons leerders kerk toe kon stap,” sê Quintin Botha, woordvoerder van Laerskool Krugersdorp-Noord.