Nooddienste besoek Wesrandse Skool
Die Wesrandse Skool word deur nooddienste besoek om kinders bewus te maak van gevare asook wat om te doen in 'n noodgeval.
Die Wesrandse Skool en Wes-Rand Nooddienste het verlede week hande gevat om veiligheid en bewusmaking onder leerders te skep.
Die skool het 305 fisies en seribraal gestremde leerders waar daar vir hulle voorsiening gemaak word.
Volgens adjunkhoof Freddie Jordaan was die doel van die dag om die leerders in te lig oor wat om te doen as ‘n noodgeval opduik.

Benewens Wes-Randse Nooddienste was die polisie en sy hondespan, asook ambulansdienste, betrokke by die dag se verrigtinge.
“Die kinders sien alle nooddienste as die polisie, wat angs by hulle skep. Die dag is om ‘n vennootskap tussen die leerders en die polisie te skep,” sê Freddie.
Hy vertel verder dat die nooddienste ook navorsing gedoen het sodat wanneer daar ‘n noodgeval is (waar gestremde persone betrokke is), hulle dan kan leer hoe om te reageer en wat om te doen. Klem is op Gebaretaal gelê, sodat leerders wat nie kan praat of hoor nie, ook weet hoe om in ‘n noodgeval te kommunikeer.

Die Krugersdorp News het die dag bygewoon en dit was duidelik dat leerders dit terdeë geniet het.
“Elke keer as ‘n brandweerwa of polisiemotor hul sirene aangeskakel het, het die kinders saam gejuig. Leerders het ook die geleentheid gehad om ‘n keël met ‘n brandslang nat te maak. Daar was ook ‘n demonstrasie van die polisiehonde,” het die joernalis Heinrich Greyling gesê.
Nooddienste het ook gedemonstreer wat om te doen as ‘n persoon hom- of haarself in ‘n noodgeval bevind deur ander te help.
