Norienes se Lerine is Kleuterskool Juffrou van die Jaar
Norienes se Lerine Roberts wen Kleuterskool Juffrou van die Jaar-toekenning.
Die meeste mense sal saamstem dat dit uitdagend en uitputtend kan wees om twee- tot driejariges groot te maak, wat nog te sê om hulle te onderrig.
Juffrou Lerine Roberts is beslis een onderwyser wat haar lewe daaraan wy om ‘n groot impak by Norienes kleuterskool te maak.
Op 18 Oktober is sy inderdaad beloon vir al haar harde werk deur Solidariteit se nasionale Kleuteronderwyser van die Jaar-toekenning te ontvang.
“Ek het nie eers daarvan geweet nie en mense het my genomineer. Ek het eers uitgevind toe ek onder die top 10 was. Ek moes toe ‘n video instuur waar die gemeenskap vir my op sosiale media moes stem,” het Lerine gesê.
Sy sê die dag toe sy die toekenning gewen het, het sy dit glad nie verwag nie.
“Ons het die oggend die ouer kinders se gradeplegtigheid gehad. Ek was verbaas toe hulle my vorentoe roep en die toekenning aan my oorhandig. Ek was oorweldig,” vertel sy opgewonde.
Sy dink sy is genomineer nadat ouers gesien het wat sy insit.
“Om ’n kleuterskoolonderwyseres vir twee- tot driejariges te wees is uitputtend en dit beteken baie vir my dat mense agterkom wat ek doen,” glo sy.
Die gunsteling deel van haar werk is om liefde en soveel aandag as moontlik aan die kinders te gee.
“Dit is die enigste beroep waar jy jou innerlike kind kan uitleef,” het sy afgesluit.