Jannie du Plessis is Monnas se nuwe Hoof van Afrigting
Rugbylegendes is onlangs aangestel by Monnas se rugby.
Daar heers groot opgewondenheid by Hoërskool Monument onder leerders, personeel en die gemeenskap oor die aanstellings van oud-Monumentaar Reinhard Gerber en oud-Springbok Jannie du Plessis as die skool se nuwe rugbyleiers.
“Die pligstate word tans met die nuutaangestelde persone bespreek en sal binnekort afgehandel word. Monnas sien uit na ‘n nuwe era van kwaliteit rugby. Ons bou voort op ‘n sterk fondament en die rugbyvisiere is gereed om die kol te tref,” het Belinda du Toit, Monnas-woordvoerder, opgewonde gesê.
Jannie, as Monnas se nuutverkose Hoof van Afrigting, het op 11 November sy eerste oefensessie met senior spelers gehad.
“Die Witbul-tradisies, kultuur, trots, karakter, passie en geskiedenis lê ons na aan die hart, veral vir ons twee nuwe rugbymanne. Welkom, Jannie en Reinhard, deur die Monnas-familie,” het Belinda afgesluit.
