Hoërskool Bastion se jaarlikse Buffelfees, wat die eerste naweek in November plaasgevind het, was weereens ‘n reuse viering van gemeenskapsamesyn.

Ju-han Swart, skoolhoof van Bastion, het gesê die naweek het afgeskop met ‘n prettige musiekspelkompetisie op die Vrydagaand.
“Daar was ook ‘n alumni-sportdag met verskeie van ons oud-leerders wat opgedaag het om weer hul alma mater op die sportvelde te verteenwoordig. Alhoewel sommige dalk ‘n paar jaar ouer en ‘n bietjie minder fiks is, kan jy hulle steeds deur ‘n ring trek. Dit was werklik ‘n voorreg om julle almal hier te hê en beslis die begin van ‘n nuwe tradisie,” het Ju-han vertel.

Op 2 November het die groot dag aangebreek; die Buffelfees.
“Die dag het begin met onsekerheid en angs oor of ons die regte ding gedoen het. Ons ouers en die gemeenskap het egter uitgekom en ons verwagtinge oortref. Die lug was blou, die son was warm, die kunstenaars was puik en het die verhoog aan die brand gesing. Dit was een onvergeetlike dag,” het Ju-han genoem.
Die Krugersdorp News het die dag bygewoon, waar daar ‘n reuse tent van stalletjies, ‘n biertuin en springkastele vir die kinders was. Kunstenaars soos Dwayne Griffin, Bok van Blek, Dodo en Zaan Sonnekus was deel van die dag se optredes.

“Met ‘n heerlike paar dae agter die rug eindig ons die naweek af met ‘n dankdiens op ons rugbyveld op die Sondag. Wat ‘n wonderlike manier om die fees af te sluit!” Ju-han vertel.
Hy bedank die gemeenskap en die betrokke partye, en noem dat hulle volgende jaar nog groter gaan gaan.
