Kennies se nuwe tydkapsule bly begrawe tot 2034
Kennies sluit hul 50e bestaansjaarvieringe af deur nog 'n tydkapsule te begrawe.
Die jaar 2034 klink na ‘n ewigheid, maar daar is geen twyfel dat die leerders en personeel van Laerskool Kenmare opgewonde sal wees om daardie jaar die inhoud van ‘n tydkapsule te aanskou nie.
Kennies het onlangs hul tydkapsule wat hul in 2012 begrawe het, geopen as deel van hul 50-jaar vieringe. Op 2 Desember het hulle wel die tradisie voortgesit en nog een vir nog ‘n dekade begrawe om die 50ste bestaansjaarvieringe af te sluit.

Kennies se feesviering koördineerder, Marinus Swanepoel, het verduidelik dat die tydkapsule nie net ‘n houer van items is nie, maar eerder ‘n tasbare simbool van hul skool se trotse tradisies en vermoë om leerders te inspireer om na te dink oor die toekoms.

“Die items wat ons daarin sit, vertel die storie van wie ons in 2024 was. Dit dien as ’n brug na die toekoms,” het Marinus bygevoeg.

Hy sê die items wat hulle in die kapsule geplaas het, sluit onder meer in foto’s, video-opnames op ‘n geheuestokkie, ‘n rugbytrui, ‘n rugby- en netbalbal, koerante, prysvergelykings tussen 1974 en 2024, die geskiedenis van die skool en laastens ‘n boodskap van die hoof.

“Hierdie items bied ’n momentopname van ons lewe in 2024 en sal oor 10 jaar ’n skatkis van herinneringe en waardevolle nostalgie wees vir die volgende generasie van Laerskool Kenmare,” het Marninus afgesluit.
