Schools

Matriek tweelingsusters au-pair in Nederland

Twee sussies en matrikulante van Hoërskool Noordheuwel het besluit om vanjaar te au-pair in Nederland.

Nadat Zané en Ilanie Dutton in 2024 aan Hoërskool Noordheuwel gematrikuleer het, het hulle besluit om die grootmenswêreld te betree deur te au-pair oorsee.

Zané vertel dat sy hierdie werk in Oudewater en Ilanie in Maastricht in Nederland gaan doen omdat sy die wêreld soveel meer bied as net waaraan hulle in Suid-Afrika gewoond is.

“Ek het onseker gevoel oor wat ek na skool wil doen en toe kom au-pairing oor my pad. My suster het dadelik ingestem om die avontuur saam met my aan te pak. Ons word groot in ‘n aaneenlopende siklus van skoolgaan en na skool wou ons graag anders wees en die wêreld sien. Daar is soveel geleenthede daar buite en dit hang van jou af wat jy daarvan gaan maak. Dit was nog altyd ‘n droom van ons om na Nederland te gaan en nou is dit ‘n werklikheid,” het Zané verduidelik.

Zané vlieg op 17 Januarie waar haar sussie alreeds op 28 Desember oorgegaan het.

“Ons het albei ‘n eenjaarkontrak. Ons droom was nog altyd om Nederland te besoek en deur Europa te toer en deur au-pairing gee dit ons die geleentheid om albei te doen. Ons ouma is Nederlands, maar moes weens die Tweede Wêreldoorlog verhuis na Suid-Afrika en het nie weer haar tuisland besoek tot sy 70 was nie, maar dit het haar nie gekeer om ons te leer oor Nederlandse geregte, liedjies en hoe om die taal te praat. Nou kan ons deel uitleef van haar droom en self sien wat die land so spesiaal maak,” het Zané uitgebrei.

Haar raad aan vanjaar se matrikulante wanneer hulle klaar is met skool, is dat die wêreld daar buite is soveel groter is as waaraan daar op skool blootgestel word.

“Ons word almal groot met die idee dat ons iets na skool moet studeer om ‘n sukses van ons lewe te maak, maar vandag wil ons vir jou sê dat God ‘n wêreld geskep het met soveel geleenthede vir elkeen van ons. Almal se stories is nie dieselfde nie en dit is goed, want ons is gemaak om anders te wees. Almal se storie is uniek en waardevol, maak nie saak wat jy kies om na skool te doen nie, gaan alles oor jou pad en wees anders, want net jy kan jou lewe leef soos God dit beplan het. Hou moed en wees sterk, want God het ’n toekomsplan vir elkeen van julle,” het sy aangeraai.

“Ons gaan beslis ons familie mis, want ons het ‘n baie sterk band, maar verlang is beter as om avonture en ervarings mis te loop. Ons sien die meeste daarna uit om ‘n ander land se kultuur te ervaar en te leer ken. Ons is baie opgewonde oor al ons nuwe avonture,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button