Norie-matrikulant mik hoog as lugvaarttegnikus
’n Norie-matrikulant van 2024 betree die grootmenswêreld en beplan om ’n lugvaarttegnikuskursus te doen.

Waldo van der Berg het in 2024 aan Hoërskool Noordheuwel gematrikuleer waar hy ‘n unieke geleentheid gekry het om na skool as lugvaarttegnikus te begin werk.
Waldo het vertel dat hy aan die einde van graad 11 deeltyds as werktuigkundige (leerling) begin werk het, wat ‘n liefde vir die meganiese wêreld geskep het.
Hy voeg by dat die geleentheid wat hy gekry het baie moeilik is en dat hulle tot slegs 10 kandidate beperk was.
“Ek is oor die maan om aanvaar te word. Ek het besluit om die lugvaarttegnikuskursus te neem, want dit is steeds in ‘n meganiese rigting, maar bied hoër werksgeleenthede. Ek wil wel eendag, as ek ouer is, my eie motoraanpassingswinkel oopmaak en karre skep wat mense nog nooit gesien het nie,” het hy verduidelik.
Waldo het afgesluit deur ‘n boodskap aan vanjaar se matrieks oor te dra.
“Die wêreld is besig om te verander. Mik na jou drome en doen wat jy wil. Bly gemotiveerd want dit is hoe jy jou doel in die lewe sal bereik.”