Nuwe Kennies gr 1’s met ope arms verwelkom
Laerskool Kenmare het regtig uit hul pad gegaan om elke ouer en hul gr 1's vir 2025 hartlik te verwelkom.

Dit het op die eerste skooldag by Laerskool Kenmare amper katte en honde gereën, maar nie eens die weer kon die verwelkoming van die nuwe graad 1’s keer nie.

Ouers en hul graadeentjie-paddabeentjies het reeds vroeg op 14 Januarie tougestaan. Eers is almal hartlik by die hek verwelkom deur personeel sowel as die leierraad waarna hul in die saal inbeweeg het waar die Kennies-gelukbringer en hoof Wouter Immelman gewag het. Hierna is die graad 1’s met ‘n high five deur nog ‘n groep opgewonde leiers gegroet.

Daarna het kinders na hul onderskeie klaskamers gegaan om hul onderwyser te ontmoet. Ouers het toe hul laaste soentjies en drukkies gegee totdat dit tyd was om hulle weer op te tel.

Een ding is seker, die opgewondenheid was groot, so groot dat daar selfs ‘n stadium was waar die ouers meer opgewonde was as enigiemand anders.

Lees gerus die News se 24 Januarie uitgawe vir ‘n meer in-diepte artikel.
Ouers is welkom om nog foto’s van hul graad 1’s se eerste skooldag na krugersdorpnews@caxton.co.za of clintonb@caxton.co.za te stuur.
Sien meer fotos onder: