SchoolsUpdate

Sukses! Wesrandse Skool spog met opgeknapte swembad

Met die hulp van die gemeenskap is die swembad by Wesrandse Skool herstel om die kinders te leer swem.

Ná maande se uitreike, skenkings en betrokkenheid van die gemeenskap is die Wesrandse Skool se swembadprojek ’n groot sukses.

Hulle kan dus pret en lewensreddende tegnieke vir gestremde kinders verskaf.

Die Krugersdorp News se voorblad van 23 Augustus 2024 het die belangrikheid van die projek beklemtoon aangesien die skool se swembad in ‘n verlate toestand was. Die gemeenskap is toe gevra vir skenkings om die swembadprojek aan die gang te kry en die ondersteuning was oorweldigend.

• Lees die oorspronklike artikel hier: WATCH: Help special needs learners swim

Op 21 Januarie het die swemprojek amptelik afgeskop.

Leerders geniet die tyd in die swembad.

Organiseerder van die projek, Karien Botha, het gesê K-swim Akademie en Wesrandse Skool het hande gevat om leerders van die skool elke week iets te gee om na uit te sien.

“Die doel is om spiere te bou om hul daaglikse take makliker te maak. Ons bou onder meer spiere in die maag [wat die middelpunt van beweging is], bene, arms, skouers en nek,” het sy verduidelik.

“Kinders wat hul lewe lank vanuit hul rolstoel na ander mense moet opkyk, is op dieselfde vlak as hulle in die swembad is,” het Karien bygevoeg.

Karien Botha help ‘n leerder om te swem.

Sy noem dat die gemeenskap hul deel gedoen het toe hulle die ligte, dak, pompe, toilette en wasbakke vervang het.

“Die bedrading en nuwe kragboks is geïnstalleer asook die swembadpompe. Al wat ons nog nodig het, is ‘n bedekkingsroller en bedekking vir die swembad,” het sy gesê.

Sy het ook genoem dat R2 000 se swembadtoerusting geskenk is.

As jy wil bydra tot die laaste bietjie toerusting wat hulle nodig het, kontak Karien by 082 964 2125.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button