Nories se kultuurspan beïndruk by gesogte fees in Bloem
Hoërskool Noordheuwel se kultuurspan beïndruk met hul produksie Sonderling en Wisselkind, en behaal die top drie by 'n gesogte fees in Bloemfontein.
Hoërskool Noordheuwel se kultuurleerders het onlangs onder die top drie geëindig tydens die Reza de Wet Fees in Bloemfontein.
Nories se kultuurhoof, Mariki de Villiers-Knop, het gesê dat 11 van hul leerders van 4 tot 7 Julie by die Wynand Mouton-teater opgetree het met hul produksie Sonderling en Wisselkind.
Sy verduidelik dat dit ’n visuele produksie is wat handel oor die innerlike angs van ’n skrywer wat vrees sy stories sal nie deur die wêreld aanvaar word nie. Die teks en regie is deur Robert Kruger.
Die hoogtepunt vir haar was die hegte band wat tussen die groep gevorm het.
“Die pragtige beelde wat geskep is en die wonderlike reaksie van die gehoor oor hoe diep die stuk hulle geraak het, was besonders. Die fees is slegs op uitnodiging, en Noordheuwel neem jaarliks deel sedert 2019,” sê sy.
Hoewel net die wenner formeel aangekondig is, is die top drie op grond van punte deur beoordelaars bepaal, onder leiding van Ilne Fourie en Schoemé Schoeman.
“Die standaard van die stukke was van hoogstaande gehalte, en dit was vir Nories weer eens ’n groot voorreg om deel van die geleentheid te wees.”
Sonderling en Wisselkind is op 29 Julie op die Nories-verhoog te sien as deel van die jaarlikse Aardklop Pronk Podium-toneelweek, waar altesaam 25 toneelstukke gaan deelneem.
