Winterfees lok duisende na Noordskool
Laerskool Krugersdorp-Noord se gewilde Winterfees is ná ses jaar terug en het duisende mense uit die gemeenskap gelok.
Laerskool Krugersdorp-Noord het op 26 Julie hul Winterfees gehou en daarmee duisende voete, jonk en oud, na die skoolterrein gelok.
Volgens Noordskool se woordvoerder, Quintin Botha, het sowat 2 500 mense die fees bygewoon.
“Ons hou die fees elke derde jaar. Die vorige een was nog voor die Covid-inperking [in 2019], tydens ons 100-jaar vieringe,” het hy gesê.

’n Reeks kunstenaars het opgetree, waaronder Ray Dylan, Dirk van der Westhuizen, Early B, Jan Jan Jan en die Penkoppe Boereorkes.

Feesgangers het hul gate uit geniet by die opblaas-speelgoed en glybane, met die musiek, verversings en heerlike kos.
Quintin het verduidelik dat die doel van die fees is om fondse vir die skool in te samel.

“Die hoogtepunt was die groot kunstenaars wat opgetree het, asook die gees onder die feesgangers. Die atmosfeer was baie lekker en opwindend – mense kon nie wag om hul gunsteling sangers in aksie te sien nie.”

Hy het afgesluit met: “Ons bedank die gemeenskap wat skole ondersteun met sulke geleenthede.”
