Vier Bastion-skuts gekies vir Gauteng-span
Hoërskool Bastion se boogskietspan het tweede geëindig in Gauteng, met vier leerders wat vir die provinsiale span gekies is.
Hoërskool Bastion het tydens die Gauteng Boogskietkompetisie ’n merkwaardige tweede plek behaal.
Die Buffels se afrigter, Annie Nolan, het met trots aangekondig dat hierdie prestasie in slegs die tweede jaar sedert die sport by die skool bekendgestel is, behaal is.
Onder leiding van Annie en Adriaan Cilliers het die span se harde werk en ure se oefening duidelik vrugte afgewerp.

“Die jong skuts het met trots en deursettingsvermoë gewys dat hulle beslis ’n krag is om mee rekening te hou. Christiaan Nolan en Theresia Cilliers is tydens die kompetisie aangewys as die derde beste seuns- en dogters-hoërskoolskuts in Gauteng en het ’n trofee asook ’n medalje ontvang,” het Annie vertel.
Sy het bygevoeg dat nog ’n hoogtepunt was dat vier van Bastion se skuts vir die Gauteng-provinsiale span gekies is: Christiaan, Theresia, Riaan Cilliers en Casey-Lee Adam.

“Hierdie prestasie is ’n groot eer en bevestig die talent wat by die skool ontwikkel word.”
Die span sal Gauteng verteenwoordig tydens die Nasionale Boogskietkompetisie wat gedurende die Oktober-vakansie in Polokwane plaasvind.

Annie het gesê dit is vir die jong sportsoort by Bastion ’n groot mylpaal en ’n inspirasie vir toekomstige boogskuts.
“Die skoolgemeenskap is trots op die span se toewyding en entoesiasme. Ons kinders bewys dat deur harde werk en spanpoging groot drome bereik kan word. Met só ’n sterk afskop lyk dit of boogskiet by Hoërskool Bastion net van krag tot krag gaan groei.”
