Nories maak toneel-geskiedenis
Hoërskool Noordheuwel is die eerste skool ooit met *drie stukke in die top-8 van die ATKV-Tienertoneel en gaan na die nasionale finaal in die Kaap.
Hoërskool Noordheuwel het geskiedenis gemaak tydens die ATKV-Tienertoneel en dring deur na die nasionale finaal by die Baxter-teater in Rondebosch, wat van 6 tot 11 Oktober plaasvind.
Nories se kultuurhoof, Mariki de Villiers-Knop, het verduidelik dat dit die oudste toneelkompetisie in die land is.
“Jaarliks neem sowat 3 000 tieners deel, en tydens die Oktober-vakansie spook die top-8 finaliste dit uit om as wenner bekroon te word,” sê ’n opgewonde Mariki.

Noordheuwel het 37 leerders wat aan die kompetisie gaan deelneem.
“Ons maak geskiedenis – ons is die eerste skool in die kompetisie se geskiedenis wat *drie stukke in die top-8 het,” het sy bygevoeg.
“Vir ons is die finaal al klaar die prys, en om in die Baxter te kan optree, is ’n ekstra bederf. Ons glo die stukke gaan uitstekend presteer en dit sal wonderlik wees om ’n paar kategorie-wenners te hê. Dalk bring ons selfs die trofee huis toe. Almal is baie opgewonde en positief,” het sy afgesluit.
Hierdie artikel is ná publikasie aangepas. Oorspronklik is genoem dat Nories die eerste skool in die kompetisie se geskiedenis is met twee stukke in die top-8, maar die kultuurhoof het intussen bevestig dat dit wel drie stukke is. Die News vra dus om verskoning vir enige verwarring wat dit mag veroorsaak het – Red.
