Leesprestasies laat trots by Muldersdrif groei
Laerskool Muldersdrif se jong lesers van graad 1 tot 3 word vereer vir hul indrukwekkende leesvordering en ywer.
Groot trots heers by Laerskool Muldersdrif oor die jongste leerders se indrukwekkende leesprestasies.
Volgens die skool se beeld- en bemarkinghoof, Lindy Phaal, is graad een- tot drie-leerders wat die beste vordering en prestasie in lees getoon het, onlangs tydens ’n funksie erken.
“Die toekennings is deel van die skool se betrokkenheid by die Stimulus Maksima-leesprogram – ’n gestruktureerde en effektiewe program wat fokus op leesbegrip, spoed en akkuraatheid,” het sy verduidelik.
“Deur visuele en ouditiewe stimulasie, tegnologie, oefeninge en herhaling help die program leerders om nie net vinniger te lees nie, maar ook beter te verstaan wat hulle lees. Dit verbeter konsentrasie, geheue en taalontwikkeling – noodsaaklike boustene vir sukses in alle leerareas,” het sy bygevoeg.
Onderwysers het opgemerk dat leerders wat aan die program deelneem, merkbare groei toon in selfvertroue en leesentoesiasme.
Liezl van der Merwe, een van die onderwysers, het gesê lees is die sleutel tot leer en dat hulle ongelooflik trots is op die jong lesers wat met soveel toewyding en ywer werk.
Die volgende leerders is aangewys as die beste lesers van die jaar:
• graad een: Grayson van Schalkwyk, Stella Meyer en Jordan Marais
• graad twee: Lenika Haarhoff
• graad drie: Liamae Strauss
“Baie geluk aan hierdie besonderse kinders wat wys dat harde werk en deursettingsvermoë altyd vrugte afwerp,” het Lindy afgesluit.
