Schools

Noordheuwel se eerste vrouerugbyspan maak skoolgeskiedenis

Hulle was net tieners in 1995, maar vandag vier Nories se enigste vrouerugbyspan hul unieke plek in die geskiedenis.

Min inwoners is bewus daarvan dat Hoërskool Noordheuwel dertig jaar gelede oor ’n vrouerugbyspan beskik het – die eerste én enigste in die skool se geskiedenis.

Die span het op 4 Augustus 1995 in die Krugersdorp News/ Nuus verskyn, met die berig:

“Hoërskool Noordheuwel se st. 7-rugbymeisies het onlangs die meisiespan van Hoërskool Bastion 7–0 op die skole se jaarlikse sportdag geklop.” Oud-spanlede het egter bevestig dat hulle destyds nie in standerd 7 was nie, maar eerder standerd 9 (graad 11).

Op 28 November het verskeie oud-lede van die span ’n nostalgiese besoek aan hul alma mater afgelê en die skool met ’n spesiale geskenk verras. Een van die oud-Nories, Amanda Morris, het verduidelik dat hulle die skool besoek het omdat hulle glo dat hul span ’n belangrike historiese rol in die vroeë ontwikkeling van vrouesport, en veral vrouerugby, gespeel het.

Stigters van die span in hul skooldae, Corné van Niekerk en Amanda Morris. Foto ingestuur.

“Ek het onlangs met ’n vrouerugbyspeler gesels en genoem dat ons al in 1995 ’n span gehad het. Sy het vir ons gesê dankie dat ons daardie eerste stap vir vrouerugby in daardie tyd geneem het,” het Amanda vertel.

Sy het bygevoeg dat die spanlede weer bymekaargekom het, en besef het dat hulle waarskynlik een van die eerste kompeterende vrouerugbyspanne in die land was.

“Daar was wel vroue wat rugby gespeel het, maar ons het aan geskeduleerde wedstryde deelgeneem.”

In daardie era was dit ongewoon vir vroue om rugby te speel, en Amanda onthou hoe mense dikwels verbaas gereageer het. Die span het in 1995 ontstaan toe hulle daarin geslaag het om ’n volledige groep van 15 spelers, almal met ’n passie vir sport, byeen te bring.

“Ons onderhoofseun, wat tragies oorlede is toe hy in matriek was, was destyds ons afrigter. Ons was baie dankbaar vir sy leiding. Gedurende die ses maande wat die span bestaan het, het ons twee wedstryde gespeel en albei gewen,” het sy trots vertel.

Die koerantberig van hul eerste wedstryd.

Amanda voeg by dat hulle destyds nie kon besef het dat hulle ’n ‘vrouestem’ vir die sport sou word nie, maar dat hulle baie trots is op die pad wat vrouerugby sedertdien geloop het.

Baie van die spanlede is steeds goeie vriende en sien uit na hul 30-jaar-matriekreünie volgende jaar. Tydens hul onlangse besoek aan Nories – waarvoor sommige selfs so ver as Koedoeskop moes reis – het hulle ’n geraamde foto van hul span aan die skool oorhandig ter viering van hul unieke status as die eerste en enigste vrouerugbyspan in die skool se geskiedenis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button