Familietrots en toekomsdrome vir Monnas-matrieks
Vreugde, verligting en groot drome het die dag oorheers toe Hoërskool Monument se matriekklas van 2025 hul uitslae ontvang het.
Die matriekklas van 2025 het op 13 Januarie in groot getalle by Hoërskool Monument High School opgedaag om hul matriekuitslae te ontvang.
Sterk familie-ondersteuning was duidelik sigbaar, met ma’s, pa’s, oumas en oupas wat trots saam met die Monnas-leerders vir foto’s geposeer het om die spesiale oomblik vas te vang. Glimlagte, verligting en ’n tikkie senuwee het die atmosfeer gevul terwyl leerders hul uitslae in ontvangs geneem het.

Een van die leerders, Elsabé Dames, het gesê matrikulante moet hard werk en nie toelaat dat enige versteurings hulle van hul doelwitte aflei nie.

“Alle eer aan God,” het sy gesê.

Vir die Monnas-leerders lê die grootmenswêreld nou voor. Die algemene gevoel onder die matrikulante is een van hoop en vasberadenheid, met baie wat gereed is om nuwe uitdagings met ywer en selfvertroue aan te pak.
