Kennies en Kruiners laat atletiekbaan lewe kry
Honderde atlete van Kenmare en Helderkruin het onlangs in Krugersdorp aan ’n vriendskaplike byeenkoms deelgeneem – ’n tradisie wat reeds vir twee dekades voortduur.
Al vir sowat 20 jaar kom Laerskool Kenmare en Laerskool Helderkruin jaarliks byeen vir hul vriendskaplike atletiekbyeenkoms. Die byeenkoms is op 3 Februarie by Laerskool Kenmare aangebied.
Volgens Peter du Toit, hoof van sport-, kultuur- en bemarking by Kenmare, bied hierdie geleentheid aan die skole die kans om hul beste atlete saam te bring. Ongeveer 280 atlete per skool het deelgeneem, met die ses beste atlete per item wat aan elke item deelgeneem het.

“Die hoogtepunt van die dag is die getalle atlete op die baan. Omdat daar net twee skole deelneem, skep dit die geleentheid vir meer atlete om gelyktydig op die baan te wees,” meen Du Toit.
Helderkruin se waarnemende skoolhoof, Jacques Breet, het afgesluit deur te sê dat dit bemoedigend is om te sien hoe die kinders hul talente optimaal benut en met trots deelneem.
