Luister: Hoërskool Noordheuwel onthul eie radiostasie
Hoërskool Noordheuwel se splinternuwe radiostasie het sy eerste regstreekse uitsending gemaak en bied leerders 'n unieke platform om hul stemme te laat hoor.
Radiogolwe het onlangs deur Hoërskool Noordheuwel weerklink toe die skool sy splinternuwe radiostasie, Die Heuwel, amptelik bekendgestel het.
Die radiostasie is op 27 Julie tydens ‘n skoolbyeenkoms bekendgestel. Volgens die skool se bemarker, Sonet Guy, het die omroepers daardie oggend hul eerste regstreekse uitsending voor leerders en personeel aangebied.
“Nories is ‘n skool wat voorloop en daarom is ons trots op hierdie nuwe projek.”
Sy sê die omroepers het tydens die eerste uitsending onder meer gesels oor die skool se opkomende musiekfees, Mej Norie, sportuitslae en die pronkweek vir toneel.
“Die stasie gaan lekker stories deel, aktuele sake bespreek en die gemeenskap op hoogte hou van alles wat by die skool gebeur,” voeg sy by.
Volgens Sonet glo die skoolhoof en beheerliggaam daaraan dat daar ‘n plek vir elke leerder is.
“Dit word weereens bewys, want die leerders wat betrokke is, is nie noodwendig sport- of kultuurgeoriënteerd nie, maar hulle het ‘n passie om deel van ‘n wonderlike radiospan te wees,” sê sy.
Die radiostasie kan hier geluister word:
https://radio.nories.co.za/public/noordheuwel_radio