Schools

Dubbele nasionale kroon vir Norie-cheerleaders

Hoërskool Noordheuwel het vir die eerste keer in meer as 'n dekade beide die meisies- en gemengde Vlak 4-nasionale cheerleadingtitels gewen.

Hoërskool Noordheuwel het een van sy suksesvolste cheerleading-seisoene in meer as ‘n dekade beleef deur twee nasionale titels by die Suid-Afrikaanse Nasionale Cheerleading-kampioenskappe te verower.

Volgens bestuurder Charné Labuschagne sal die 2026-seisoen onthou word vir die span se vasberadenheid, veerkragtigheid en merkwaardige prestasies.

Sy sê Noordheuwel het tydens die provinsiale kompetisies meer as 80% van sy byeenkomste gewen en hom só as een van Suid-Afrika se voorste hoërskool-cheerleadingprogramme gevestig.

Nayleen van Staden word deur haar spanmaats in die lug gelig. Foto ingestuur

Pad na die podium

Die span van 45 atlete het uit ervare deelnemers sowel as nuwelinge bestaan. Sommige het die sport eers vanjaar begin beoefen, terwyl ander reeds as lede van Span Suid-Afrika internasionale ervaring opgedoen het.

“Ten spyte van hul verskillende ervaringsvlakke het hulle saamgesnoer met een doel voor oë: om Noordheuwel weer na die top te neem,” sê Labuschagne.

Tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Cheerleading-kampioenskappe, wat in Julie in Gauteng plaasgevind het, het skole van regoor die land om die nasionale titels meegeding.

Noordheuwel se hoërskool-meisiesspan (Vlak 3) het teen 11 ander skole meegeding en derde geëindig.

“Wat hierdie prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat elke atleet in die span eers ses maande lank aan cheerleading deelneem. Dit bewys dat harde werk, toewyding en uitstekende afrigting in ‘n kort tyd buitengewone resultate kan lewer,” sê sy.

Lori-Ann Steyn in aksie. Foto: Ingestuur

Twee nasionale titels

Volgens Labuschagne het Noordheuwel se grootste sukses in die hoogs mededingende Vlak 4-afdeling gekom.

“Met sterk skole uit Gauteng en die Wes-Kaap as teenstanders het beide die meisies- en gemengde Vlak 4-spanne foutlose vertonings gelewer,” sê sy.

Noordheuwel het die nasionale titels in beide die gemengde Vlak 4- en meisies-Vlak 4-afdelings ingepalm.

Volgens Labuschagne is dit die eerste keer in meer as tien jaar dat die skool albei nasionale titels in dieselfde seisoen wen.

“Agter elke roetine was tallose ure se oefening, onwrikbare toewyding en die geloof dat die program weer ‘n nasionale krag kon word.

“Die atlete het bewys dat sukses nie net op talent gebou word nie, maar ook op deursettingsvermoë, dissipline en spanwerk.

“Baie geluk aan elke atleet, afrigter en ondersteuner wat hierdie prestasie moontlik gemaak het. Noordheuwel is weer eens die tuiste van nasionale kampioene,” sluit sy af.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button