Monnas se hokkieseuns wen derde Noordvaal-titel
Monnas se eerste span hokkieseuns het hul derde agtereenvolgende Noordvaal-titel met ’n 1–0 oorwinning oor Hoërskool Pietersburg beklink.
Hoërskool Monument se eerste span hokkieseuns het vir die derde agtereenvolgende jaar die Noordvaalbeker ingepalm nadat hulle Hoërskool Pietersburg met 1–0 in die eindstryd verslaan het.
Die span het van 30 Julie tot 1 Augustus by Noordwes-Universiteit in die A-afdeling meegeding en hul plek bo-aan die kompetisie verseker met die oorwinning in die eindstryd.

Volgens hokkiehoof Divan Geyser het die span ondanks ’n moeilike begin tot die seisoen aangehou hard werk, met hul volgehoue poging wat uiteindelik beloon is.
Doelwagter Caleb Haupt het tydens die toernooi uitgeblink deur 11 doele te keer.

Die span se verdediging was volgens Geyser een van hul grootste sterkpunte, aangesien hulle geen doele in óf die semifinaal óf die finaal afgestaan het nie.
Geyser het gesê die span se volgende doelwit is om volgende jaar vir ’n vierde agtereenvolgende keer die Noordvaalbeker te wen.
