Teenboelieveldtog bring belangrike boodskap na Kennies
Afknouery kan op verskeie maniere plaasvind, met ’n studie wat wys dat kwetsende naamnoemery die algemeenste vorm onder Suid-Afrikaanse laerskoolkinders is.
Afknouery is nie net fisiese geweld nie en kan ook vernedering, uitsluiting, geswets en kuberboeliegedrag insluit.
Dit was die fokus van AfriForum se Teenboelieveldtog wat op 7 Augustus by Laerskool Kenmare aangebied is.
Volgens AfriForum se onderwyskoördineerder vir die Noordstreek, Mari-Louise Erasmus, vind boeliegedrag ook in klaskamers, vriendekringe en aanlyn plaas.
Sy sê ’n 2021-studie, wat 7 067 leerders van 61 laerskole in al nege provinsies ingesluit het, het bevind dat kwetsende naamnoemery, oftewel geswets, die algemeenste vorm van boeliegedrag onder Suid-Afrikaanse laerskoolkinders is. Die studie het ook hoë vlakke van sosiale uitsluiting en fisiese intimidasie aangeteken.
Kennies se departementshoof van opvoedkunde, Laurentius Conradie, sê waardes soos respek, omgee, verantwoordelikheid, eerlikheid en verdraagsaamheid is belangrik om ’n veilige skoolomgewing te skep.
Erasmus beklemtoon dat leerders ook ’n rol speel deur ander in te sluit, vir maats op te staan en nie saam te lag wanneer iemand seergemaak word nie.
Sy sê die Teenboelieveldtog rus skole, ouers en leerders toe met praktiese kennis om boelie- en kuberboeliegedrag te herken, vroeg aan te spreek en ’n kultuur van wedersydse respek te bevorder.
