Kaskardag laat Kennies se gees behoorlik losbars
Van kleurvolle kaskarre tot groot glimlagte – Kennies se terrein gons van opwinding.
Laerskool Kenmare se jaarlikse Kaskardag het op 28 Augustus leerders en hul families bymekaargebring vir ’n dag vol pret, gees en samesyn.
Die dag het op Kennies se gronde plaasgevind, waar leerders van graad RR tot sewe met hul kaskarre meegeding het om binne ’n voorgeskrewe tyd soveel moontlik rondtes af te lê.
Skoolhoof Wouter Immelman het verduidelik dat die dag nie net ’n fondsinsamelingsgeleentheid was nie, maar veral op gesinstyd en die skep van herinneringe fokus.

“Dit was ’n droom 13 jaar gelede toe ons dit begin het, en vandag is dit ’n briljante geleentheid om herinneringe saam met die familie te maak,” sê hy.
Volgens Immelman is een van die grootste hoogtepunte om te sien hoe die leerders die dag geniet en hul kinderlikheid ten volle uitleef.
