Van 7de Laan tot Hollywood: Monnas vereer Neil Sandilands
Akteur en musikant Neil Sandilands ontvang Monnas se gesogte Gedenktoekenning vir sy besondere bydrae tot die kunste.
Hoërskool Monument (Monnas) het onlangs sy vyfjaarlikse Gedenktoekenning oorhandig aan ’n oudleerder wat ’n besondere bydrae tot die samelewing gelewer het.
Volgens die skool se bemarker, Belinda du Toit, word die toekenning sedert 1991 toegeken. Vorige ontvangers sluit onder andere FW de Klerk, professor PA Pelser, professor E Botha, professor TT Cloete, Esté Pienaar, dr Leon Wessels en Zelda du Preez in.
Vanjaar se ontvanger is die akteur en musikant Neil Sandilands, wat van 1988 tot 1992 ’n leerder aan Monnas was.
Sandilands het reeds in graad nege sy eerste televisierol in Meester vertolk, waarna hy as Dolf in Konings te sien was. Hy het egter landwyd bekendheid verwerf met sy vertolking van Bart in 7de Laan, ’n rol wat hy sewe jaar lank vertolk het.
Sy loopbaan het hom later na Los Angeles geneem, waar hy in verskeie internasionale produksies verskyn het, waaronder The Americans, The Flash en NCIS. In 2020 het hy saam met Tom Hanks in News of the World gespeel. Hy het ook ’n rol in Kingdom of the Planet of the Apes losgeslaan.

In 2021 is Sandilands vir ’n Emmy benoem vir sy vertolking van General Abbott in Netflix se Sweet Tooth.
Volgens Du Toit strek sy kreatiewe bydrae egter veel verder as toneelspel. Hy het ook as regisseur, skrywer, klankoperateur, redigeerder en musikant gewerk. In Suid-Afrika het hy ook lof ontvang vir sy bekroonde vertolking in Orion.
Sy musiekloopbaan sluit reeds vier albums in. In 2025 het hy boonop saam met sy orkes landwyd getoer met Die Vyftigers.
Du Toit het bygevoeg dat dit nie net Sandilands se indrukwekkende prestasies is wat hom onderskei nie, maar ook sy nederigheid, liefde vir sy alma mater en die trots waarmee hy steeds die skool se leuse, Liewer Slyt as Roes, uitleef.
Ons eer Neil Joseph William Sandilands vir sy uitsonderlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse en internasionale kunste as ’n waardige en verdienstelike ontvanger van Hoërskool Monument se Gedenktoekenning vanjaar,” het sy afgesluit.
Lees ‘n meer in-diepte artikel in die News se 4 Desember uitgawe.
