
Ons bly in Mindalore en my man het op 14 Januarie ‘n noue ontkoming gehad.
Ons veiligheidstelsels het my man gewaarsku dat daar iemand in die erf was, twee mans het oor ons heining gespring en in die huis ingekom. Gelukkig het die twee nie ‘n vuurwapen gehad nie want hulle het my man met ‘n baksteen probeer dreig, slegs die feit dat ons ‘n veiligheidsdeur in die huis het wat my man kon toeslaan tussen homself en die mans, het sy lewe gered.
Ons is al 41 jaar getroud en glo my ons het hard gewerk vir ons huis en ons besittings, maar dit blyk my dit beteken niks.
Enige persoon wat nog nie ‘n dag se eerlike werk gedoen het nie, kan homself die reg toe-eien om oor jou ses-voet hoë muur te klim, in jou huis in te stap en homself help aan jou goed waarvoor jy hard gewerk het.
Jy mag hulle nie iets aandoen nie want hulle het menseregte terwyl jou eie menseregte om vir jouself ‘n lewe te maak niks beteken nie.
Nou gaan dit ons nog ‘n plaas se geld kos om onsself nog verder te beveilig, waar gaan dit eindig?
