
Die verkeer deur ons klein dorpie het die laaste paar jaar drasties toegeneem.
Groot vragmotors is aan die orde van die dag en dan laat die Provinsiale Departement van Paaie ook die ekstragroot voertuie hier deurry. Dis nou voertuie wat so groot is dat Eskom-kabels gelig moet word.
Ek het reeds gevra dat daar in die sentrale deel van Magaliesburg na die oppervlak van die pad gekyk moet word aangesien ‘n groot gedeelte daarvan besig is om te verbrokkel.
Tot dusver het niks nog gebeur nie.
Die bome in Magaliesburg is ‘n kopseer. Baie inwoners glo dat dit uitgehaal moet word en ander wil weer graag die laaste “mooi” van ons plekkie behoue laat bly.
Hoe dit ook al sy, daar moet van tyd tot tyd aan die bome aandag gegee word. Dit bly egter agterweë. Dis dan wanneer ek hand bysit.
Op Woensdag 29 Januarie het John Maruntshi die takke van die bome, wat die sig van motoriste belemmer, afgekap. Dit help beslis.
