
Gedurende Oktober 2014 kry ek ‘n blondekop huurder met klein kindertjies en sy belowe plegtig om mooi na die woonstel te kyk wat ons pas opgeknap het.
Dieselfde aand waarop die deposito betaal is trek hulle in. Alles is volgens kontrak en die aantal persone wat die plek mag bewoon word duidelik in die huurkontrak uiteengesit .
Min het ons geweet watse probleme op ons wag. Kort voor lank kla die ander inwoners oor die mense se swak gedrag. Dis ‘n vloekery en bakleiery in die ergste graad, en elke keer word die klagtes ten sterkste deur my huurders ontken. Binne die bestek van twee maande ondervind die huurder probleme met haar bank en kan nie huur betaal nie.
Ek gebruik die deposito en die kragrekeninge word nie betaal nie. Dis die een verskoning na die ander met leë beloftes wat volg. Intussen hou die klagtes aan oor die gedrag van die huurders. Tydens besoeke merk ek dat daar beddens in die sitkamer staan om haar kinders te akkommodeer wat kom kuier. Baie meer as die aantal toegelate persone bly permanent daar, en intussen is daar klagtes oor rusverstoring en dwelmmisbruik.
Die plek is altyd deurmekaar en die tuimeldroër word nie gespaar nie. Geen krag word betaal nie en met groot moeite oorreed ek die mense om die plek te ontruim.
Ten einde laaste word die plek om middernag ontruim en hulle laat die woonstel met beskadigde deure, vuil mure en gebreekte vloerteëls. Die skade beloop bykans R4 000 en die agterstallige kragverbruik bykans R7 000.
Ek is te dankbaar om van hulle ontslae te wees. Met die huurder se aansoek is oproepe altyd beantwoord, maar nou kry ek geen antwoord of reaksie op die eposse nie. Ek het besluit om hierdie mense se identiteit aan die huuragentskappe te stuur.
Ek kan gekontak word by 082 926 8106 vir enige navrae oor hierdie huurders.
Ek is tans besig met regstappe in ‘n poging om kostes te verhaal.
